Sport

Middelburg teen Ferro’s

Die datum was 7 Junie 2014. Die Kees Taljaard Stadion was 'n miernes van bedrywighede met die HTS/MHS Old Boys-wedstryd, valksermspringers en brullende motorfietse.

En iewers, na al hierdie opwinding, het Middelburg Rugbyklub vir Witbank Ferro’s aangevat.

Die Swartes was toe beslis die buiteperd na twee nederlae teen Sasol en Groblersdal, maar toe die fluitjie vir die begin van die Ferro-wedstryd blaas, was daar géén teken van enige verloorbloedneuse nie.

Middelburg het voor ‘n stampvol stadion hul beste vertoning die seisoen gelewer om Ferro’s 31-19 ore aan te sit. Louis Roos, Gerhard Munro, Phillip Range en Johantjie van der Walt, het almal in die eerste helfte van die wedstryd gedruk om die wedstryd heeltemal buite hul teenstanders se bereik te plaas…

Druk die versnelknoppie na Saterdag, 12 Julie, en Middelburg speel wéér teen hul aartsvyande van duskant die Groot Olifantsrivier. Hierdie keer op Ferro’s se tuisveld.

Apie Human het hier en daar ‘n verandering gemaak aan die beginvyftiental wat die afgelope naweek vir Loskop verneder het. Gerhard Munro keer terug op heelagter met Abednego Mamushi wat na linkervleuel skuif, terwyl Devan Kruger waarskynlik in die plek van die opwindende PG Kruger gaan begin.

Voorlangs lyk die prentjie grotendeels dieselfde met Hendrik du Toit wat op haker begin en Jan Prinsloo wat saam met Willie van der Westhuizen in die lynstane sal rank.

Een van die redes vir Middelburg se sukses in die eerste wedstryd teen Ferro’s was dat hulle die Witbankers voorlangs aangevat het, wat gesorg het dat die Swart-agterlyn bykans eenrigtingverkeer in die eerste 40 minute geniet het.

Human voorspel juis ‘n agterlynstryd vir die komende naweek se kragmeting. En Neil Janse van Rensburg sal hier ‘n sleutelrol op losskakel vir die Swartes vertolk.

“Neil is ‘n baie belangrike speler en hy weet wanneer om self aan te val en wanneer om sy agterlyn met die bal te laat loop.”

Moet ook nie dieselfde strategie van Middelburg in hierdie wedstryd verwag nie: Human vertel dat die span bietjie iets anders ingeoefen het, juis omdat die twee klubs mekaar se speelstyl so goed ken.

Een ding is egter seker: die Swartes sal die momentum van die afgelope paar wedstryde wil behou en om dit te doen, sal hulle totale rugby moet speel teen ‘n Ferrospan wat graag hul vorige nederlaag wil wreek.

Afskoptye is om 13:45 (tweede spanne) en 15:00 (eerste spanne).

Middelburg Rugbyklub: Gerhard Munro, Anele Blaauw, Devan Kruger, Louis Roos, Abednego Mamushi, Neil Janse van Rensburg, Johan van der Walt, Phillip Range, Joe Herrmann, Stoof van Dyk (kaptein), Willie van der Westhuizen, Jan Prinsloo, Bulletjie van der Merwe, Hendrik du Toit en Jandre Willer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button