Kwagga-hulle wen goud
Veni, vidi, vici is wat die Romeinse generaal, Julius Caesar, geskryf het na een van sy vele suksesvolle veldslae. Basies beteken dit "ek het gekom, ek het gesien, ek het oorwin".
Nou kan Kwagga Smith en sy Blitzbokspanmaats iets soortgelyks sê, na hulle na die Statebondspele gegaan het, die ander spanne bietjie uitgekyk het, en met die titel weggestap het.
Smith het vroeg in die eindstryd speelkans gekry, om die waarheid te sê met die kragmeting skaars vier minute aan die gang, nadat Kyle Brown beseer is. Smith het op haker in sy kaptein se plek gaan sak en ‘n skitterende wedstryd gehad.
Die Suid-Afrikaners het Nieu-Seeland 17-12 in die eindstryd geklop met Seabelo Senatla wat twee drieë (en 11 in die toernooi) gedruk het.
Teen druktyd was die Suid-Afrikaners sewende op die Spele se medaljepunteleer.
Uitslae:
17-12 teen Nieu-Seeland (eindstryd).
35-7 teen Samoa (halfeindstryd)
35-12 teen Skotland (kwarteindstryd)
20-0 teen Kenia
50-0 teen Cook Eilande
36-0 teen Trinidad en Tobago.
