Golfglorie wink…
'n Vinnige soektog op die internet wys dat 'n hele paar bekendes van Texas afkomstig is.
Sportsterre soos die held van die 1996 Olimpiese Spele, Michael Johnson, en die omstrede Lance Armstrong is van dié Amerikaanse staat. Dan is die vermaaklikheidswêreld ook ryker danksy Texas-boorlinge soos Eva Longoria, Owen Wilson en Willie Nelson…
Nou is Xander Basson op pad na die plek waar die dra van Stetson Cowboy-hoede waarskynlik ‘n vereiste op die gholfbaan is.
Die HTS Middelburg-gholfster vlieg volgende Sondag na Texas, waar hy ‘n beurs by Midland College losgeslaan het om te studeer en gholf te speel.
Basson spog met ‘n voorgee van +2 en gaan vir die volgende paar jaar sy gholfloopbaan in Amerika slyp. Die beurs is vir twee jaar, maar die kanse is goed dat Basson langer sal bly.
Hy het in sy skooljare die Suid-Afrikaanse o/17-toernooi en die Middelburg Senior Ope gewen.
Basson is ook ‘n kranige tennisspeler, maar het in sy graad nege-jaar meer op gholf begin konsentreer. En met sy talent en die Texas-geleentheid, was dit ‘n baie goeie besluit.
