Vat drie Van Aardt!
Die Rooipette se o/15A-krieketspan het Saterdag in die Superliga te staan gekom teen die spanne van HTS Witbank.
HTS Witbank wen die loot en kolf eerste en teken 121 lopies, almal uit, aan in 30.1 boulbeurte. Marko de Kock neem vier paaltjies vir 34 lopies in 10 boulbeurte, Armand Delport neem drie paaltjies vir 30 lopies in 7.1 boulbeurte en Geurt Bezuidenhout laat een paaltjie kantel vir 15 lopies in vyf boulbeurte.
Die Rooipette teken 125 lopies aan sonder die verlies van ‘n paaltjie in 11.4 boulbeurte. Sterkolfwerk is gelewer deur die openingspaar wat al die lopies aangeteken het: Gerhard van Aswegen met 74 lopies en Marko de Kock met 38 lopies.
Die Rooipette sit hul uiters suksesvolle ligavertoning voort en behaal ‘n oorwinning van 10 paaltjies teen die span van HTS Witbank.
Die groot toets sal eerskomende Saterdag plaasvind wanneer die Rooipette teen hul groot teenstanders, Uplands Kollege van Witrivier, op hul tuisveld sal speel.
•Die Rooies se o/15 A span boul in húl wedstryd eerste en HTS Witbank teken 123 lopies, almal uit, aan in 23.3 boulbeurte. Staatmaker-boulwerk is vir die Rooies gelewer deur Menanto Greeff wat ses paaltjies neem vir slegs sewe lopies in 4.3 boulbeurte en Armand Scorgie met drie paaltjies vir 38 lopies in ses boulbeurte.
Die Rooies kolf tweede en teken 124 lopies aan vir die verlies van nege paaltjies in 32.5 boulbeurte. HTS Middelburg se o/15A’s behaal ‘n naelskraap oorwinning van een paaltjie!
•Net soos hul ouer krieketbroers het die O/14A-span óók teen HTS Witbank gespeel. Die jong Rooies kolf eerste en teken 209 lopies vir die verlies van slegs vier paaltjies aan in hul 40 beurte. Helmo du Preez moker 64 lopies, nie uit nie, Marco van Deventer 37, ook nie uit nie, en Tjaart Kruger dra ook 37 lopies by.
Die Witbankers word almal uitgeboender vir slegs 22 lopies. Miles Searle het vyf paaltjies vir net twee lopies in twee beurte platgetrek! Hy is goed ondersteun deur Ruben Kruger wat drie paaltjies vir agt lopies in 4.5 beurte geneem het.
•Op 6 Augustus was die o/14B- en o/14C-krieketspanne van HTS Middelburg in ‘n taai stryd gewikkel. Tydens hierdie Nkangala B-ligawedstryd verras die o/14C-span se Jacques van Aardt met uitstaande boulwerk. Hy neem vyf paaltjies vir 10 lopies in drie boulbeurte – dit het ook ‘n driekuns ingesluit.
Die B-span wen die wedstryd met nege lopies nadat hulle eerste gekolf en 79 lopies aangeteken het en die C-span almal uit is vir 70 lopies. Hierdie diepte onder die jong Rooi krieketspelers beloof groot dinge vir HTS se krieket in die jare wat voorlê!
