Krieket in ‘n verwoestende bui
HTS Middelburg se krieketspanne was die afgelope tyd in 'n verwoestende bui.
Die eerste span het te staan gekom teen Uplands College in ‘n Superligawedstryd en op ‘n drafstap gewen.
Die kolwers van Uplands word eerste ingestuur en teken 229 lopies aan vir die verlies van ses paaltjies na hul toegelate 50 boulbeurte. Marko de Kock neem 3/48 in 10 boulbeurte en Armand Delport 2/32 in sy 10.
Die Rooipette maak daarna kortemette van die telling en teken 231/4 in 39 boulbeurte aan.
Benjamin van Niekerk – wat reeds twee 90-talle agter sy naam het – slaan ‘n welverdiende 107 nie uit nie.
Gerhard van Aswegen se 86 het ook tot HTS se sege van ses paaltjies bygedra.

• In die o/14’s se wedstryd teen Hoërskool Middelburg het die jong Rooies 230/8 in 40 boulbeurte aangeteken.
Ewan Lombard het 92 aangeteken, Helmo du Preez 38 en Ruben Kruger 37.
MHS is daarna almal uitgehaal vir 70 in 25.5 boulbeurte.
Lombard het 6-22-4 geneem en Tjaart Kruger 2.5-5-3.
HTS wen met ‘n reuse 160 lopies.
• Die o/15’s het ook teen Uplands kragte gemeet. HTS kolf eerste en word in die 33ste beurt vir 135 lopies uitgehaal. Zander Janse van Rensburg (38) en Harold Roux (20) was die beste kolwers.
Daarna word Uplands vir 103 lopies uitgehaal. Armand Schorgie (10-21-4), Ben Goosen (3.1-14-2) en Menanto Greef (7-28-2) het die Laevelders laat bontstaan.
