Barend lei in Groen en Goud
In 1989 was Alice Cooper se Poison een van die groot treffers, die Berlynse Muur is afgebreek, terwyl Baywatch en The Simpsons vir die eerste keer op die kassie uitgesaai is. Dit is ook die laaste keer dat 'n heelagter 'n Suid-Afrikaanse Skolespan gelei het.
Maar die afgelope Dinsdag het HTS Middelburg se Barend Smit in Michael Ehrentraut se 1989-voetspore gevolg, toe hy die land se beste skoolrugbyspelers op Outeniquapark teen Wallis aangevoer het.
Die Suid-Afrikaners het die wedstryd oorheers en daar was feitlik geen druk op Smit as heelagter nie. Toe hy egter wel die bal gekry het, was sy kenmerkende kraglopies daar vir almal om te sien.
Die Skoolspringbokke het uiteindelik 40-15 gewen, na hulle rustyd reeds ‘n gemaklike voorsprong van 26-3 geniet het. Thinus de Beer van Waterkloof se skopskoen het gereeld die Rooi Drakies gestraf, terwyl die tuisspan vier drieë gedruk het.
Volgens Smit is dit ‘n reuse eer om jou land te verteenwoordig. “Dit is ongelooflik om dit te doen…om daar voor te staan en jou volkslied te sing. Dit is ‘n gevoel wat mens nie kan beskryf nie – jy moet daar wees om dit te verstaan. Ongelooflik!”
Om eerste op die veld uit te draf as kaptein, is ook iets wat hy lank sal onthou. “Dit is ‘n massiewe eer en ‘n ewe groot verantwoordelikheid.”
Smit het vanjaar vir die Rooi Bulle ook op heelagter uitgedraf, maar het verlede week ‘n skitterende wedstryd teen die Franse op senter gehad. Hy was baie meer betrokke by die spel as teen Wallis en het ‘n drie gedruk.
“Heelagter was altyd die lekkerste posisie, maar na hierdie twee weke verkies ek senter!” bieg hy.
Smit gaan volgende jaar by die Universiteit van Johannesburg studeer en gaan ook vir die Leeus se jong spanne in aksie wees.
Maar eers speel hy en sy spanmaats Saterdag by Paul Roos – in wat as die eindstryd van die reeks gesien kan word – teen die Engelse o/18’s.
“Ek is gereed, die span is gereed en ons sien uit na die nuwe uitdaging!”
• Puntemakers teen Wallis
SA Skole: Drieë: Aston Fortuin, JT Jackson, Embrose Papier, Heino Bezuidenhout. Doelskoppe: Thinus de Beer (4). Strafskoppe: De Beer (4).
Wallis: Drieë: Owen Watkin, Josh Middleton. Doelskop: Davy Jones. Strafskop: Jones.
• Die Skoolspringbokke speel Saterdag om 16:00 teen Engeland by Paul Roos.
• Smit het ook ‘n boodskap aan die HTS Middelburg-rugbyspelers: “Gryp elke geleenheid aan wat jy kan. Geniet elke liewe sekonde op die rugbyveld en vertrou die Here met alles!”