Daar is skop in dié gesin
In 2004 het The Incredibles op die silwerdoek begin draai, dit handel oor 'n superheld-gesin wat saam misdaad beveg.
Middelburg spog egter deesdae met hul eie Incredibles wat saam uitklophoue in die skopbokskryt plant.
Die Krugers – Zane, Carin, Bowen en Eagen – pak binnekort hul tasse vir Italië, waar hulle by die WAKO Kadette en Juniors Wêreldkampioenskap in aksie sal wees.
Die kampioenskap vind van 6-14 September in die vakansiedorp van Rimini plaas, met gevegte wat amptelik op 9 September afskop.
Zane sal as afrigter optree en sy vrou, Carin, as beampte, terwyl Bowen en Eagen sake in die kryt gaan uitspook.
Die 14-jarige Bowen sal in die o/57 kilogram-kategorie in die ligkontak-afdeling deelneem, terwyl sy 11-jarige suster in die semi-kontakafdeling veg.
Die Krugers slyp saam hul vaardighede by Pieter de Klerk se XKT Middelburg-klub. “As jy saam met jou kinders dit doen, dan verstaan jy bietjie beter waaroor dit gaan,” vertel Zane.
Dit is ‘n sienswyse wat Carin deel. Die Krugers probeer om een keer per jaar saam as ‘n gesin aan ‘n kompetisie deel te neem. “Mens kan nie van Bowen en Eagen verwag om in die kryt klim en jy doen dit nie self nie.”
Die Rimini-avontuur sal die Krugers se eerste oorsese skopboksreis wees. En dit gaan beslis uniek wees. Dit is nie aldag dat elke lid van ‘n gesin sáám hul Proteakleure verwerf en sáám by ‘n internasionale byeenkoms sal wees nie.
Gaan Italië ‘n Incredible ervaring wees? Aikôna, sommer in Afrikaans: ongelooflik!
• Die gesin beoefen al vyf jaar skopboks, met Bowen eerste in die kryt.
• Bowen is in HTS Middelburg en Eagen in Laerskool Staatspresident C.R. Swart
