Sport

Leemans moker 125*

Elke nou en dan is daar 'n skoolkrieketspeler wat opposisieboulers laat kopkrap en toeskouers opgewonde maak. Dink aan Johann Myburgh en Jacques Rudolph in die laat 1990's.

Veral Myburgh het die skoolkrieketvelde aan die brand geslaan en het as 17-jarige in 1998 Graeme Pollock se rekord verbeter as die jongste speler in Suid-Afrikaanse geskiedenis om ‘n dubbele honderdtal in eersteklaskrieket aan te teken.

En hoewel dit hopeloos te vroeg is om ‘n Myburgh-vergelyking te tref, het Laerskool Middelburg se Stefan Leemans beslis ‘n stap in die regte rigting gegee.

In ‘n o/10-wedstryd teen Middelburg Primary het Leemans ‘n onoorwonne 125 lopies van slegs 72 aflewerings gemoker. Sy beurt het altesaam 23 grenshoue ingesluit teen ‘n treftempo van 174 lopies per 100 balle.

Maar as jy dink sy invloed op dié spesifieke wedstryd was na sy blitskolfbeurt verby, moet jy weer dink. Met sy mengelmoes aflewerings van snel- en draaiballe, het hy vier Primary-paaltjies laat kantel.

Volgens Leemans geniet hy kolfwerk die meeste, terwyl Quinton de Kock sy held is juis omdat hy “goed kolf”.

Dat kolfwerk sy gunsteling krieketdissipline is, is duidelik as jy na sy tellings kyk. In vyf ligawedstryde het hy 319 lopies aangeteken en is nog net een keer uitgehaal. Sy boulwerk bly egter ook nie agterweë nie en hy het reeds 18 kolwers terug na die kleedkamers gestuur.

Leemans word vir die afgelope vyf jaar permanent met ‘n kolf in die hand gesien. Agterplaaskrieket saam met ouboet Mario (wie self deesdae vir Hoërskool Middelburg se eerste krieketspan uitstap) en binnenshuise krieket help hom om aan sy vaardighede te slyp.

Hy het al verskeie kere sy provinsiale en SA-klere in die blitsarena verwerf en sy 2014-statistiek lyk indrukwekkend. In 10 wedstryde het hy 226 lopies (positief) aangeteken en 25 paaltjies geneem.

Dit is juis in die binnenshuise arena waar hy geleer het om draai- én naatballe af te stuur.

Verder speel hy rugby, hokkie en tennis. Maar een ding is seker: krieket is Stefan se lewe.

• Laerskool Middelburg se o/10 span meet volgende week kragte met Laerskool Staatspresident C.R. Swart – ‘n span wat ook nog onoorwonne in die liga is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button