Basson mik na podium
Gustav Basson het 'n droom. En dit is om sy stempel by die Wêreldpadfietskampioenskap in Spanje later vandeesmaand af te druk.
Die 18-jarige Basson mik daar na ‘n podiumplek in die padfietswedren én om die tydtoets te wen. As die nasionale tydtoetskampioen in sy ouderdomsgroep, is hierdie droom beslis nie te vergesog nie.
Dié padfietslangasem het egter vroeër voor ‘n kruispad gestaan: om ‘n suksesvolle fietsryloopbaan te hê, moet jy in Europa deelneem, wat beteken dat jy baie skooldae gaan misloop. Juis om die rede het hy met tuisonderrig begin – ‘n keuse wat gesorg het dat hy die afgelope winter in België kon deelneem.
Basson het ‘n hele paar podiumplekke losgery en beskik oor die nodige Europese ervaring om in Spanje te presteer. Boonop het ontwikkelingspanne soos BMC Development en CC Etupes in hom op o/23-vlak belanggestel.
Hy is daagliks op sy fiets, behalwe op Maandae wanneer daar kragwerk in die gimnasium gedoen word.
Basson was egter nie altyd ‘n kranige fietsryer nie. Hy was Laerskool Dennesig se hoofseun en het in sy graad agt-jaar by HTS Middelburg nog rugby gespeel en middelafstande gehardloop. Kort daarna is Scheuermann-siekte by hom gediagnoseer en hy moes ‘n keuse maak tussen swem of fietsry. Gelukkig het hy op laasgenoemde besluit.
“Ek het altyd saam my pa fietsrytoere soos die Tour de France en die La Vuelta gevolg. My pa is ook ‘n goeie fietsryer en ek het op sy fiets begin oefen. Ek moes myself egter eers bewys voor ek ‘n nuwe een kon kry!”
‘n Goeie vertoning in sy eerste padresies en die res is – om ‘n geykte uitdrukking te gebruik – geskiedenis.
Het hy al geval?
“Ja!” sê hy met ‘n breë glimlag terwyl na ‘n paar rowe op sy been wys.
“In België het ek op ‘n stadium vier keer in vier dae geval. Tweehonderd fietsryers wat almal probeer om voor te kom in beknopte strate, is soms nie vir sissies nie.”
Tydens een van die valsessies het die ongeluksvoël Basson behoorlik getref. Nadat die wedrendokter sy diagnose gemaak het, het hy na sy fiets teruggehardloop, net om agter te kom dat hy sy duim ontwrig het. Terug in die saal na mediese behandeling, kry hy ‘n pap wiel!
“Ek het daardie wedren net klaar gemaak!”
Snaaks genoeg het hy nie ‘n fietsryheld nie. “Ek sê altyd dat ek só wil ry dat almal na my opkyk en trots kan wees. Jy moet so ry dat jou handtekening naderhand ‘n signature word. Ek wil veel eerder net myself op die pad wees.”
En met dié sienswyse en sy wil om te presteer, kan Gustav Basson vele podiumplekke in sy loopbaan verwag.
• Basson is van 21-28 September in Spanje in aksie. Hy vertrek reeds op 19 September.
• Hy het ook die TRAC-toer in Nelspruit gedurende Maartmaand gewen.
•Scheuermann’s siekte is ‘n osteochondritis van die rugwerwels. Dit kom voor in jong mense, veroorsaak rugpyn veral met beweging, en kan lei tot abnormale kurvatuur van die werwelkolom.
