Sport

Super Pumas teen ‘Kwas

Het jy vir die meeste van die Puma-ondersteuners aan die begin van die seisoen gesê dat die span na vyf Curriebekerwedstryde tweede op die punteleer sou lê, sou meeste van hulle jou tien-teen-een met 'n effense oorblufte (maar tóg gelukkige) glimlag aangekyk het.

Maar vir Jimmy Stonehouse en kie kan jy maar die “verrassing” uit die woord verrassingspakket haal – want hierdie Pumaspan is vanjaar omtrent ‘n volledige rugbypakket. En dit het harde werk, toewyding en seker ‘n tikkie bloedsweet in die aanloop tot die toernooi geverg om hierdie prestasie te behaal.

Verlede week se sege van 31-17 teen die Vrystaatse Cheetahs was hul vierde oorwinning in die Premierliga. Nog net die Haaie kon hulle in Durban klop (na die besoekers nog ‘n voorsprong van 7-6 teen rustyd geniet het).

Om te illustreer dat die span ‘n goeie balans tussen aanval en verdediging gekry het, is duidelik as jy na hul driedruk- én drieafweer-vermoë kyk. Met hul 16 drieë het die span die derde meeste drieë in vanjaar se reeks gedruk, terwyl hulle ook die derde minste drieë (11) afgestaan het.

Nou vertrek Corné Steenkamp en sy spanmaats na Kimberley, waar hulle die Griekwas op GWK Park aandurf.

Die afrigtingspan het Woensdag die slegte nuus gekry dat skrumskakel, Faf de Klerk – wie vir die Lions in die Superrugby-reeks uitgedraf het – vir die res van die siesoen weens ‘n kniebesering buite aksie sal wees. Met Dylon Frylinck óók op die krukkelys, is Reynier van Rooyen nadergetrek om die nommernegetrui te dra. Snake Nyoka is die ander skrumskakel in die span.

Dan maak Coenie van Wyk sy terugkeer tot die beginspan, met JW Bell wat na die plaasvervangerbank skuif.

Boonop het die Pumas die hef in die hand na hulle die Griekwas vroeër op Mbombela ore aangesit het. Maar soos enige besoekerspan jou sal vertel, Kimberley kan ‘n klipharde uitdaging wees.

Die Pumas kan beslis trots wees op hul prestasies tot dusver. Maar die seisoen is nog lank nie verby nie.

• Afskoptyd is Saterdag om 15:00.

Pumas: Coenie van Wyk, Jerome Pretorius, JW Jonker, Stefan Watermeyer, Rosko Specman, Justin van Staden, Renaldo Bothma, Uzair Cassiem, Corné Steenkamp (kaptein), Giant Mtyanda, Frikkie Spies, Vincent Koch, Francois du Toit, Corné Fourie. Plaasvervangers: Frankie Herne, DeJay Terblanche, Marius Coetzer, Jaco Bouwer, Snake Nyoka, JC Roos, JW Bell.

Griekwas: Gouws Prinsloo, Ederies Arendse, Jonathan Franke, Doppies la Grange, PJ Vermeulen; Francois Brummer (kaptein), Tian Meyer; Ruaan Lerm, Carel Greeff, Marnus Schoeman, Jaco Nepgen, Hilton Lobberts, Kop van der Westhuizen, Martin Bezuidenhout, Steph Roberts. Plaasvervangers: Ryno Barnes, Maks van Dyk, Hugo Kloppers, Burger Schoeman, RJ Liebenberg, Abrie Griesel, Dean Grant.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button