Sport

Van die Dal na Loftus

Enige afrigter van enige sportspan het gewoonlik 'n speler wie se naam hy eerste neerpen wanneer daar span gekies word.

Gewoonlik het die speler ‘n sekere X-faktor, of die vermoë om wedstryde te wen. Nóú het Nolis Marais (afrigter van die o/21 Blou Bulle) só ‘n speler in Kobus Marais gevind.

Marais is tans die voorste puntemaker in vanjaar se o/21 Curriebekerreeks en soos Dok Craven sou sê: hy kan drop, place, kick en score.

Die 20-jarige losskakel het sy laerskoolloopbaan by Marble Hall voltooi, terwyl hy tot graad 11 ‘n leerling by Hoërskool Ben Viljoen was voor hy stad toe getrek het en sy matriek by Hoërskool Waterkloof in Pretoria klaargemaak het.

“Daar is ‘n verskil tussen stadsrugby en rugby op die platteland – veral met die tipe kompetisie wat daar in die stad is. Skoolrugby in Pretoria was vir my lekker, maar ek het die rugby op die platteland ook vreeslik geniet.”

Anders as meeste rugbyspelers – wie deur hul loopbaan tussen posisies rondtoer – was Marais nog altyd ‘n losskakel. “Ek wou nog altyd net skop,” laat weet hy laggend. “En in beheer van ‘n wedstryd wees.”

Marais is ‘n aanvallende losskakel wie se balverspreiding (buiten sy stelskopvermoë) sy groot sterk punt is. Hy speel al twee jaar vir die Pretorianers se o/21’s – hoewel hy laasjaar nog 19 jaar oud was.

Sy gunstelingwedstryd vanjaar was teen die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld. “Ons het vroeër die seisoen swaar teen hulle geleef op Nuweland. In die Loftuswedstryd stamp ons hulle toe 44-30.”

Marais het in dié wedstryd die meeste van sy span se punte aangeteken. “Dit was ‘n wonderlike gevoel. Ons speel vir mekaar en dit maak elke wedstryd spesiaal.”

Hy vertel dat Handré Pollard sy moeilikste teenstander op die rugbyveld is. “Juis omdat ons al van skooldae teen mekaar speel en nou altwee by dieselfde unie is.”

Sy pa is sy held.”Hy is ‘n man wat trots is en alles sal doen vir my gesin. Ek is baie bevoorreg – as dit nie vir my ouers (Kobus senior en Elize) was nie, sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie.”

Volgende jaar wil jy Superrugby speel. “Ek wil ook die rugbylewe weer opwindend maak en eendag in die Groen en Goud uitdraf. Dit is elke seun se droom.”

En Marais het beslis die skopvoet om sy drome te bereik.

• Hoe Marais sy punte aanteken:

Drieë: twee

Doelskoppe: 26

Strafskoppe: 13

Skepskop: 1

• Sy spanne en prestasies:

2006: Puma Cravenweek

2007: Limpopo Cravenweek

2008: Bokkieweek (kaptein van die Suidoos-Transvaal)

2010: Grant Khomoweek (onderkaptein van Limpopo Blou Bulle)

2010: SA Green Squad

2011: Cravenweek Limpopo Blou Bulle

2012: Akademieweek Blou Bulle

2013: o/19- en o/21-Blou Bulle. Hy was ‘n Curriebekerwenner in sy ouderdomsgroep en het ook die meeste punte aangeteken. Boonop is hy as die agterspeler van die jaar aangewys.

Hy het ook Vodacombekerrugby gespeel en was in die Super 15-oefengroep.

• Die Blou Bulle o/21’s speel weer op 20 September teen die Luiperds in Potchefstroom. Die Bulle lê tans derde op die punteleer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button