Die o/14’s het teen MHS te staan gekom in ‘n ligawedstryd. Die jong Rooies kolf eerste en teken 206 lopies aan vir die verlies van agt paaltjies in 40 boulbeurte. Die beste kolwers was Ruben Kruger wat 39 lopies bygedra het, Helmo du Preez met 33 en Tjaart Kruger met 30 lopies.
Die span van Hoërskool Middelburg is daarna tot 93 lopies in 27.3 boulbeurte beperk. Goeie boulwerk vir die Rooies is gelewer deur Tjaart Kruger wat vyf paaltjies vir 11 lopies in 5.3 boulbeurte neem.
• Die skool se tweede krieketspan kolf eerste in húl kragmeting teen Hoërskool Kanonkop en teken 233 lopies aan. Jandré Venter (45) en Hanno Lombard (44) was die beste kolwers.
KHS het daarna 90 lopies aangeteken. Wikus Coetzee en Lombard het onderskeidelik drie en twee paaltjies laat kantel.
HTS Middelburg se tweedes klop Hoërskool Kanonkop se eerste span met 143 lopies, terwyl Lombard as die speler van die wedstryd aangewys is.
• Die Rooipette het die afgelope naweek gerus na die Superliga-wedstryd teen MHS uitgestel is na ‘n latere datum. Hulle sal hierdie naweek weer tuis in aksie wees teen HGH.
• Daniel Griesel, Benjamin van Niekerk, Marko de Kock en Gerhard van Aswegen is ingesluit in die finale oefengroep vir Mpumalanga se Coca-Cola Khaya Majola o/19-span. Die finale span sal na afloop van ‘n oefenkamp wat van 6-8 Oktober plaasvind, aangekondig word.
