Rooies reeds Super wenners
Die Rooipette van HTS Middelburg het teen Hoërskool Hoogenhout op hul tuisveld te staan gekom in hul tweede laaste Superliga-kragmeting in Mpumalanga.
Die Rooies wen die loot en kolf eerste. Hulle slaag daarin om 222 lopies in 44 boulbeurte aan te teken. Gerhard van Aswegen het 66 van 84 balle aangeteken, Daniel Griesel 46 van 51 en Benjamin van Niekerk 29.
Hoogenhout kolf tweede en word tot 208 lopies beperk. Ellwyn Thomas was goud werd vir sy span en neem 8-24-4 en Marko de Kock neem 10-43-3 en sorg dat die Rooies se spogspan met 14 lopies wen.
• Die O/15A-krieketspan van HTS Middelburg het op hul beurt ook teen Hoogenhout te staan gekom op hul teenstanders se veld.
Hoogenhout kolf eerste en teken 130 lopies aan vir die verlies van 10 paaltjies in 34.1 boulbeurte. P.G. Slabber neem 6-21-3, Ben Goosen 4-14-2 en Tiaan Swarts 4-14-2
HTS slaan daarna die wenlopies in 34 boulbeurte met ses paaltjies plat. Rooies wat die kolwe behoorlik geswaai het, was H.J. du Plessis met 37 lopies (nie uit nie) en Jan-Hendrik Bronkhorst met 35 lopies.
HTS wen die wedstryd met vier paaltjies.
• Middelburgers kan gerus Donderdag hul werksklere verruil vir kort broeke en sonbrandroom wanneer die eerste krieketspanne van die Rooies en die Groenes mekaar pak op HTS Middelburg se tuisveld van 10:00 af.
Die Rooipette is reeds Mpumalanga Superliga-wenners en sal hul veldtog in die Noordvaal-uitspele voortsit na die kort vakansie wat voorlê.
Vanaf Maandag (6 Oktober) tot Woensdag (8 Oktober) sal vier van die Rooipette deelneem aan die finale keuringsproses vir die Mpumalanga o/19-span wat in Desember in Pretoria in aksie sal wees by die nasionale Khaya Majola Coca-Cola o/19-week.
