Ligblou Kriekie skiet goue doele
Marguerite (Kriekie) van Wyk se hokkieloopbaan is besig om van krag tot krag gegaan. Dié talentvolle oud-Middie is deesdae in die ligblou van Noord-Gauteng (Northern's) se vrouespan te sien.

Van Wyk vertel dat sy aanvanklik nie vir die span gekies is nie, maar dat sy wel later nadergetrek is vir ‘n provinsiale toernooi in Pietermaritzburg. En in die proses het sy en haar spanmaats vir ‘n tikkie hokkiegeskiedenis gesorg toe hulle die toernooi gewen het.
“Northern’s het in 1994 laas in ‘n IPT-finaal gespeel en nog nooit gewen nie – tot ons vanjaar die goue medalje ingepalm het.”
Sy het tydens haar matriekjaar by Hoërskool Middelburg op ‘n stadium ‘n verstommende 67 van daardie jaar se uiters suksesvolle eerste span se 77 doele aangeteken. Nóú span haar provinsiale span haar ook as doelskieter in.
“Die tempo hier is baie vinniger en lekkerder, terwyl mens superfiks moet wees om by te bly. Gelukkig het ons ‘n fiksheidsafrigter! Dan is die intensiteit baie hoog – mens kan voel wanneer jy ‘n harde wedstryd gespeel het.”
Van Wyk is ook vir Tukkies in aksie en is reeds hard aan’t oefen vir volgende jaar se Varsitbybeker.
Haar tweelingsussie, Marcia, is ook by dié Pretoriase universiteit en die twee hoop om binnekort weer op die hokkiebaan herenig te wees – hulle was immers onafskeidbaar op hoërskool en die “Kriekie/Maasie-duo” het talle opposisiespanne slapelose nagte gegee.
Volgens Van Wyk is dit ‘n aanpassing om sonder Marcia te speel. “Sy sal altyd my wingman wees. Sy is egter ook besig om hard te oefen sodat ons volgende jaar weer saam kan speel; ons is baie opgewonde!”
Soos altyd bly sy nederig oor al haar en haar tweelingsussie se prestasies.
“Ek is werklik dankbaar vir al die ondersteuning en vir die Here wat alles vir ons moontlik maak. Ek en my sussie is regtig gebless!”
Verwag dus nog baie ligblou (én dalk eendag groen-en-goud) doele van die Van Wyk-tweeling.