Sport

Mark maak sy liggaamsboumerk

Mark Whelan is besig om van krag tot krag in die liggaamsbouwêreld te gaan - sommer net 'n paar maande na hy met dié sportdissipline begin het.

Hy het sy debuut by die IFBB Mpumalanga Beginner-vertoning gemaak en drie trofeë ingepalm, waaronder die algehele wenner van die kompetisie. Glad nie sleg vir iemand wie se loopbaan afgeskop het toe sy meisie hom spottenderwys gewaarsku het dat hy besig is om gewig op te tel nie!

Sedertdien was hy al by twee Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in aksie. Die mees onlangse was die NABBA-kampioenskap waar hy vyfde geëindig het.

Hy vertel egter dat die nasionale IFBB-kampioenskap in Kaapstad die uitmergelendste was.

Omdat daar nie ‘n limiet in die bo 75 kilogram-kategorie is nie – jy kan 120 kilogram weeg en stééds in dié kategorie deelneem – het hy in die o/75 kilogram-afdeling spiere gebult.

Hy moes egter eers 11 kilogram afskud voor hy toegelaat is om deel te neem; glad nie ‘n maklike storie met die kompetisie om die draai nie.

Enige liggaamsbouer wat sy sout werd is, sal jou vertel dat dieet waarskynlik een van die belangrikste aspekte van die sport is. En Whelan stem 100% saam. “Daar is nie ‘n towerpilletjie nie, jy is wat jy eet.”

Hy is vol lof vir Middelburg se liggaamsbouheld, Kobus Bothma, vir sy hulp en ondersteuning.

Dan beaam hy Bothma se woorde dat bene die moeilikste spier vir ‘n liggaamsbouer is om te oefen. “Ek het darem nie die kuit issue nie,” sê hy laggend. “Maar bene is beslis die ergste omdat dit die grootste spiere bevat.”

Vir voornemende liggaamsbouers het hy die volgende raad: sukses gebeur nie vanself nie, terwyl dit voordelig is om vir jou ‘n lekker ondersteunersbasis te kry.

“Stel vir jouself ‘n doelwit en vertel ander daarvan – jy sal húlle dan nie in die steek wil laat nie. As dit nie vir mense was nie, sou ek lankal handdoek ingegooi het. Jy het iemand nodig wat jou ondersteun.”

Hoewel hy beplan om vir die volgende paar maande ‘n blaaskans te neem, het hy reeds die plaaslike liggaamsbou-landskap aan sy voete. En soos Arnold Schwarzenegger in Terminator gesê het: “I’ll be back!”

Verwag dán meer prestasies van Mark Whelan.

• Hy was ‘n rugbyspeler op skool wat op buitesenter uitgedraf het.

Vertonings:

• IFBB Mpumalanga Beginnerskompetisie: Junior mans o/23; opekategorie o/75-kilogram en algehele wenner.

• Tweede by die RUDX-skouspel in Boksburg.

• Algehele junior manswenner by IFBB Mpumalanga Provinsiale Kampioenskap.

• Hy was in aksie by die IFBB SA nasionale kampioenskap in Kaapstad.

• Vyfde by die NABBA-kampioenskap.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button