Pumas sê koebaai in die Baai
Die Pumas het Vrydagaand hul 2014-Curriebekerveldtog in Port Elizabeth vaarwel geroep, toe hulle 25-26 teen die Kings verloor het. Dit was die OP-span se eerste sege van die seisoen.
Twee geelkaarte het die Pumas aanvanklik van enige momentum beroof en die Kings het ‘n voorsprong van 19-3 opgebou. Maar soos die Laevelders al deur die loop van 2014 gewys het, is dat hulle nie sommer gaan lê nie.
Danksy drieë deur Frankie Herne, Justin van Staden en Stefan Watermeyer het hulle selfs die voortou geneem, maar ‘n drie deur Scott van Breda en die suksesvolle doelskop deur Gary van Aswegen het die Kingswa deur die drif getrek.
• Die Pumas móés die wedstryd met ‘n bonuspunt wen om nog ‘n geringe kans te staan om vir die halfeindstryd te kwalifiseer. En hoewel die wiele in die laaste paar wedstryde afgekom het, het hulle gewys dat hulle in die Premierliga hoort
.• Puntemakers:
Pumas: Drieë: Frankie Herne, Justin van Staden, Stefan Watermeyer. Doelskoppe: Van Staden (2). Strafskoppe: Van Staden (2).
OP Kings: Drieë: Tobie Botes, Ronnie Cook, Paul Schoeman, Scott van Breda. Doelskoppe: Gary van Aswegen (3).
