Sport

Kapteins trots op spanne

HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg se o/17-sewesspanne het verlede naweek onderskeidelik eerste en vierde tussen top-skole by die Noordvaal-seweskampioenskap by Hoërskool Menlopark geëindig.

En natuurlik is hul kapteins – Eric Basson (Rooies) en Nefdt du Toit (Middies) – trots op hul spanne se vertonings.

• Eric Basson (HTS)

1. Wat beteken die vertoning vir jou en die skool?

Ek dink soms word sulke prestasies as vanselfsprekend aanvaar, maar die wat daarvoor werk waardeer elke oomblik daarvan en is meer gemotiveerd om te verbeter.

2. Dit was nogal senutergend teen Garsfontein in die eindstryd (die Blitsbulle het in die doodsnikke die wendrie gedruk); hoe het jy die ouens kalm gehou?

Deur te bid dat God ons rustig sal hou. Ons het darem big match temperament, so dit was net nog een wedstryd met lekker spanning!

3. Teen watter skool het julle die beste gespeel en waarom sê jy so?

Garsfontein. Omdat dit die lekkerste is om die beste met goeie spanwerk te wen.

4. Watter speler in jou span het jou die meeste beïndruk?

Dit sal ‘n moeilike keuse wees omdat ons glad nie spelers gehad het nie, maar net ‘n span vol broers.

5. Hoe sal jy jouself as kaptein beskryf?

‘n Goeie leier moet ook gelei word deur mede-spelers. Ek motiveer meer as lei omdat ons span so opreg en vol passie is.

• Nefdt du Toit (MHS):

1. Wat beteken jul vertoning vir jou en die skool:

Dit beteken baie vir my, want ek weet ons kan net verbeter – ek is baie trots op my span. Dit maak nie saak teen watter groot name of watter groot skole ons speel nie, as ons alles gee en as ‘n eenheid saamspeel, kan ons met enige iemand meeding!

2. Teen watter skool het julle die beste gespeel en waarom sê jy so?

Teen Monument (Middies het 19-7 gewen). Die hele span het hul alles gegee. Elke speler was op sy beste en ons het vir mekaar en die Here gespeel.

3. Watter speler in jou span het jou die meeste beïndruk?

Wandile Shabangu is ‘n jong o/16-speler wat hard werk en sy stempel afdruk. Dan gee Ruben Roodt ook in elke wedstryd meer as 100%.

4. Wie het die beste drie gedruk?

Beslis Fana Ngwenya. Hy het in twee van ons wedstryde die wendrie gedruk. Hy gee alles vir Middies, is baie vinnig en maak iets van niks!

5. Hoe motiveer jy jou span op die veld?

Ek probeer altyd om positiwiteit so hoog as moontlik te kry. Ek sê altyd dat negatiewe kommentaar vir na die wedstryd gehou moet word en dat ons mekaar moet opbou. Ek het hulle ook herinner dat God sê waar daar eenheid is, sal hy seën. Alle eer na Bo.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button