Pumas vry na Adendorff
Die Pumas is besig om te onderhandel om die dienste van Shaun Adendorff vir die 2015-seisoen te bekom. Dié veelsydige voorspeler is 'n Blitzbok en het die span in Engeland en Skotland verteenwoordig.
Die 22-jarige Adendorff – wat 1.86m in sy sokkies staan en 100kg weeg – het sy Cravenweekrugby vir die Haaie gespeel en was vir Tukkies in die Varsitybekerkompetisie in aksie. Hy het sy Curriebekerbuiging vir die Blou Bulle gemaak en was in 2012 ‘n o/20-Springbok.
Dan vry die unie ook na die WP se Neil Rautenbach. Die 23-jarige haker is so Kaaps as wat kan kom en het sy skoolrugby vir Paarl Boys High gespeel, sy Cravenweekrugby vir die Streeptruie en Varsitybeker vir Ikeys.
Spelers soos Marnus Schoeman (flank van die Griekwas), Hoffman Maritz (heelagter van die Luiperds), Jannie Stander (slot van die o/21-Leeus), Simon Westraadt (haker van Griekwas) en Shaun O’Brien (flank van die Westelike Provinsie) het reeds kontrakte vir die 2015-seisoen geteken.
• Die Laevelders sal egter sonder die dienste van Coenie van Wyk (Vrystaat), JW Jonker (Vrystaat) en Stephan Kotze (Griekwas) wees.
Dylon Frylinck (Curriebeker), Ashwin Scott, Deon Scholtz en RW Kember se kontrakte is nie hernieu nie.
