Drie deel wenprys gelykop
Dié is die legende van drie vriende, 'n boot sonder 'n naam, 'n goedkoop visstok en 'n baber wat sy gewig in goud werd is...
Dit mag dalk soos iets klink wat Jacob en Wilhelm Grimm sou neerpen, maar dit is presies wat die naweek tydens die Baberfees by Forever Resorts Loskopdam plaasgevind het.
Reuben Dickason, Skonnie de Beer en Stiaan Duvenage het Saterdag met die R50 000 prysgeld vir die swaarste baber weggevaar, na Duvenage ‘n knewel van 11.96kg uitgetrek het. Boonop met ‘n stok wat hy vir R139 (“sal vir jou ‘n foto stuur om dit te bevestig”) by Pick ‘n Pay gekoop het!
Volgens Dickason het die vis 12.5 kilogram geweeg toe hulle hom die oggend gevang het, maar weens al die stresvolle gespartel, het hy ‘n paar gram verloor.
Die wenbaber is met ‘n swartbaar se stert uitgetrek. “Ons ander twee het die koppe gebruik, maar toe raak Stiaan lui om die koppe af te sny en gebruik sommer die stert.”
Dit was ook nogal ‘n storie om die baber met die P’nP-stok in te katrol. “Ons het seker vir 45 minute met hom gespook. Op ‘n stadium het die lyn opgeraak en ek moes met die boot al agter die baber aanry, om die lyn op te wen. Ons het later op mekaar begin skree,” erken Dickason laggend.
Dié baber-en-muisspeletjie het die aandag van die beamptes getrek en op ‘n stadium het hele ‘n paar amptelike bote al agter die kronkelende visvangstoet aangery!
Die driemanskap het die hele dag net die een baber gevang. “Soms het mens geluk ook nodig!”
Hoe dan met die wengeld gemaak?
“Ons het voor die tyd gesê dat ons die wengeld gelykop tussen mekaar sou verdeel.”
En dit is presies wat hulle gedoen het.
• Dickason se boot het nog nie ‘n naam nie, maar hy het beloof om hom nou “vinnig te doop”.
• Duvenage en sy vrou het verlede jaar gekamp toe hulle die visstokkie gekoop het. Hy is egter nooit gebruik nie en het sy goue buiging by die Baberfees gemaak!
