Sport

Blinde sanger speel ook krieket!

Vernon Barnard, Middelburg se bekende blinde sanger, is vir die tweede keer gekies vir die SA Blinde Krieketspan.

Die spelers het vanaf 6-9 November ‘n oefenkamp in die Kaap bygewoon, waartydens die span aangewys is. Die wêreldbeker toernooi word in die Kaap gehou, vanaf 26 November tot 9 Desember 2014. Vernon is ook gevra om te sing tydens die openingseremonie.

Deelnemende lande is Suid-Afrika, Indië, Pakistan, Australië, Engeland, Sri Lanka en Bangladesh.

Vernon was in 2012 (as enigste skolier) ook gekies vir die SA Blinde Krieketspan wat in Bangalore, Indië, aan die wêreldbeker T20 deelgeneem het. Vernon en Marco van der Linde (‘n nuweling in die span) sê hulle kan nie wag vir die toernooi om te begin nie.

Daar is drie klassifikasies by blinde krieket naamblik B1 (totaal blind – Vernon), B2 (swaksiende – Marco) en B3 (swaksiende – maar sig is bietjie beter).

Hulle speel met ‘n harde, wit plastiekbal met ysterballetjies in, sodat hulle kan hoor waar die bal is. Die bal word nie gegooi soos met gewone krieket nie, maar gerol nadat ‘n paar versoeke gevra en beantwoord is.

‘n B2 of B3 hardloop vir ‘n B1 en ‘n lopie tel twee punte vir ‘n B1.

Die spelers moet nie onderskat word nie, want daar word talle viere en soms ook sesse geslaan.

Volgens Vernon se ouers, Vernon (Senior) en Beneta “is dit ongelooflik om te kan beleef hoe die spelers hart en siel in die game is. Om te kan sien hoe geduldig hulle is wanneer daar soms lank gevoel-en-gesoek moet word na die bal. Om te kan ervaar hoe hul wil opstaan en aangaan nadat iemand hulle onderstebo gehardloop het. En sekerlik die mooiste, die kameraadskap wat daar heers. Ons as siendes kan soveel by hulle leer en as ons, ons oë sluit, kan ons maar net probeer indink wat hulle deurmaak!”

• Die SA Blinde Krieketspan sien as volg daaruit: Marlin Kolbee, Isreal Hattingh, Asher Hattingh, Bongani Stofile, Desigan Pillay, Jackson Make, Regunathan Thambiran, Sonwabile Bhidla, Buhle Bhidla, Riaan Serfontein, Marco van der Linde, Vernon Barnard, Johan Schroeder en Sean Schwan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button