Kolf, boul, beslissings, veldwerkoefeninge…
Volgens die tweetalige woordeboek is die Afrikaanse weergawe van 'n jack of all trades 'n jan-van-alles.
Volgens die tweetalige woordeboek is die Afrikaanse weergawe van ‘n jack of all trades ‘n jan-van-alles. Uitgewers kon maar net sowel ‘n foto van Shaun Neethling op die krieketveld geplaas het. Dit sou die vertaling én verduideliking baie makliker gemaak het.
Want die 21-jarige Neethling se hande staan vir min verkeerd as dit by krieketsake kom.
Hy is ‘n staatmaker vir Middelburg Krieketklub, speel vir die Pumas, is ‘n provinsiale skeidsregter én ‘n afrigter van die Mpumalanga o/17B-krieketspan. O ja, hy swaai ook die wilgerlat in die binnenshuise arena en is vanjaar vir die Suid-Afrikaanse o/25-span gekies.
“Krieket is beslis my passie en ek benader die lewe soos ‘n krieketwedstryd: aflewering vir aflewering.”
Hoewel hy met ‘n hoogste telling van 144* (teen Patriot in sy matriekjaar) spog, verkies hy boulwerk. Sy twee paaltjies die afgelope naweek teen die Griekwas het juis tot die Pumas se goeie vertoning bygedra
Neethling vertel dat hy dit veral geniet om planne teen kolwers uit te werk om hulle terug na die kleedkamer te stuur. Maar soos enige naatbouler jou sal sê, is vaardigheid en talent om die planne uiteindelik uit te voer net so belangrik. En hy het beslis die vermoë om dit te doen.
In matriek het hy die perfekte aflewering teen Rob Ferreira afgestuur: die bal het in lyn met die middelpaaltjie grond gevat, effens weggeswaai, die weifelende blokhou van die kolwer geklop en die toppunt van die wegpen getref.
Tog bly hy nederig en is vol lof vir Pumaspanmaats soos Gerhard Vosloo en Lafras Moolman by wie hy nog gereeld meer van die spel leer.
Soos enige speler droom hy daarvan om eendag op internasionale vlak mee te ding, maar vir eers mik hy om ‘n vlak hoër as tans te speel en dalk eendag sy vaardighede in ‘n eersterangse wedstryd (of twee) uit te stal.
Soos hy self mos sê: hy benader dinge aflewering vir aflewering.
• Beste boulwerk: 8-15-7
• Beste kolfwerk: 144 nie uit nie
• Spanne: Nkangala (o/12 en o/13); Bokkieweek (o/19); SA Bokkieweek (2011); TUKS Akademie; Mpumalanga.
