Driekuns teen Nieu-Seelanders
"Kwagga" in 'n Nieu-Seelandse aksent klink seker volksvreemd vir die geoefende ore van ons Suid-Afrikaners, maar na die naweek se Dubai-sewes het die Kiwi's en Australiërs oorgenoeg kanse gekry om hul uitspraak te verbeter.
Want Kwagga Smith was witwarm in die woestyn.
Smith het ‘n driekuns van drieë (nogal in die eerste helfte) teen die Nieu-Seelandse blitse in die bekerhalfeindstryd gedruk, voor hy die bal aan die rol gesit het met ‘n drie in die eindstryd teen Australië.
Die Blitzbokke het dié twee wedstryde onderskeidelik 28-0 en 33-7 gewen. Hulle is nou tweede op die HSBC Sewesreeks se punteleer, slegs twee punte agter Fidji.
Boonop het Smith se uithalervertonings hom ‘n plek in die Dubai Dream Team – saam met ander Bokblitse soos Cecil Afrika en Werner Kok – besorg.
• HSBC Sewesreekspunteleer na twee rondtes: Fidji (39 punte); Suid-Afrika (37 punte); Australië (28 punte); Nieu-Seeland (28 punte).
• Die Dubai-droomspan: Kwagga Smith, Tim Mikkelson, Ed Jenkins, Jerry Tuwai, Cecil Afrika, Werner Kok, Cameron Clark.
• Bepalings vir PE-sewes (Saterdag):
12:42: SA vs VSA
15:58: SA vs Kenia
19:58: SA vs Wallis
