Old Boys mik nóg hoër
Groot, groter, Middelburg Old Boys... Toegegee, dit is dalk nie taalkundig korrek nie, maar Middelburgers kan verskoon word as hulle die oortreffende trap effens verbuig.
Want na die reuse sukses van verlede jaar se oumankragmeting tussen HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg, mik organiseerders nóg hoër in 2015.
Dié twee skole se rugbysterre van 1996 tot 2001 sal weer op 6 Junie 2015 sake op die Kees Taljaard Stadion uitspook en vanjaar sal Hoërskool Kanonkop ook deel wees van die aksie.
Die Kanonkoppers sal teen die Renegades kragte meet – ‘n span wat spelers insluit wat net té oud is om vir die bejaarde Rooi Bulle of Middies uit te draf, of gesoute Middelburgers wat in ander dorpe op skool was.
Nes in 2014 sal fondse weer vir liefdadigheid ingesamel word, terwyl daar talle nuwe konsepte op die vermaakbeplanningsagenda is.
Indien jy deel wil word van hierdie unieke inisiatief, kan jy vir Rayno de Kock bel by 061 434 7794.
• Gholfdag 5 Junie 2015 by Middelburg Buiteklub.
• Wedstryde word op 6 Junie by die Kees Taljaard Stadion gespeel. Kanonkop sal eers die Renegades aanvat, waarna Middelburg Rugbyklub vir Witbank Ferro’s die stryd aansê. Die hoofwedstryd sal tussen die Middie en Rooi Bul Old Boys wees.
• Mikpunte vir 2015:
* R250 000 in te samel.
* 12 000 toeskouers
* 600 rugbyspelers
* 140 gholfspelers
* 30 skape op die spit.