Sport

Blink 2015 wag vir tweeling

Die universiteitshokkieseisoen mag nog 'n ruk weg wees, maar Middelburg se hokkietweeling is lankal besig om hul reeds merkwaardige vaardighede op te skerp.

En vanjaar wil Marguerite en Marcia van Wyk (of eerder Kriekie en Maasie) nóg hoër hoogtes by TUKS bereik.

“Ons oefen almal nou op ons eie,” laat Kriekie Woensdagaand weet. “Hulle het vir ons ‘n oefenprogram gegee om te doen – dit is moeilik, maar tog lekker en uitdagend!”

Maasie vertel weer dat hulle veral op fiksheid gedurende die vakansie gekonsentreer het. “Omdat ek en my suster deel is van die hoekies, oefen ons saam. Ek stoot uit en iemand stop die bal vir Kriekie. Sy skerp ook gereeld haar drag flicks op.”

Dit neem nogal ‘n rukkie om gewoond te raak aan die hokkietempo van Pretoria, maar dié twee oud-Middies is nou op hul gemak onder die stad se spreiligte. “Ons het nou meer ervaring met die tipe hokkie en mens weet wat om te verwag. Dit is opwindend om te dink dat daar vanjaar nuwe meisies gaan bykom!”

Kriekie wil vanjaar weer vir TUKS I speel en oefen hard om die SA o/21-wêreldbekerspan te haal. Daarteenoor wil Maasie saam haar suster vir die universiteitsspan presteer.

“Dit is ‘n uitdaging. Nie net vir myself nie, maar ook om vir ander te bewys dat ons saam op die astro hoort! Kriekie ondersteun my baie en is my rolmodel – nie net fisies nie maar ook emosioneel en geestelik.”

So tussendeur al die hokkie kry hulle darem ook tyd vir hul studies.

“Dit is soveel meer werk as skool,” sê Maasie laggend.

“Ja, mens sukkel maar, druk deur en vertrou dis die beste. Darem is die eerste deel verby, né?” beaam Kriekie.

En met die Varsitybeker om die draai, kan Kriekie en Maasie net so ‘n gedugte kombinasie vir TUKS wees as wat hulle vir Hoërskool Middelburg was.

• Die twee het ook boodskappe gestuur vir die meisies wat vanjaar hokkie vir hul skole speel.

* Marcia: Aan al die ‘Burg-meisies wat net so ‘n groot passie vir hokkie het – moet NOOIT opgee nie. As daar ‘n groot uitdaging is wat voorlê, pak dit aan met God aan jou sy. Hy is immers die Een wat jou die talent gegee het en ook die nodige krag. Gebruik dié talent só dat as jy eendag voor Hom staan dat jy kan sê dat jy die talent ten volle gebruik het!

* Marguerite: Moet nooit ophou droom nie – dit is in jou hart vir ‘n rede. My gunsteling sêding op skool was NEGU (Never Ever Give Up). Onthou altyd waar jou talent vandaan kom!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button