Sport

5/8 teen Limpopo

Elnu Potgieter het sy stempel dubbel en dwars by die nasionale o/17-krieketweek in Johannesburg afgedruk.

Dié Hoërskool Middelburg-hotklou het sommer op die eerste dag die kolforde van Limpopo aan flarde geboul, toe hy as openingsbouler 5/8 geneem het.

Hy het uiteindelik 10 paaltjies in die toernooi laat kantel – die meeste in sy span. Hy tel ook onder die voorste paaltjievrate in die toernooi, terwyl sy gemiddeld van 8.80 lopies per paaltjie die vierde beste onder die top-boulers is.

Snaaks genoeg was hy nie altyd ‘n naatbouler nie. In sy dae by Laerskool Middelburg was hy ‘n draaier, voor hy in graad sewe aan sy snelboulvaardighede begin skaaf het.

Moet ook nie dink hy is ‘n Mitchell Johnson wat kolwers laat bontstaan met sy kartetse nie. Potgieter is meer soos ‘n linkshandige Glenn McGrath – hy sê juis dat geduld sy groot sterk punt op die krieketveld is.

“As jy ‘n kolwer drie keer agtereenvolgens buite die wegpen klop, help dit nie jy raak frustreerd en probeer nuwe dinge nie. As jy hard werk, sal jy die vrugte pluk.”

“Verder verkies ek dit om na regshandige kolwers te boul. Ek dink die hoek wat ‘n linkshandige bouler skep, is moeilik vir hulle om te trotseer.”

Hoewel Potgieter met ‘n hoogste telling van 133 lopies spog, was dit nie een keer nodig dat hy sy beenskutte in Johannesburg moes aantrek nie. Die span se toporde-kolwers het gereeld die Pumawa deur die drif getrek.

Die jong Pumas het teen Limpopo, Griekwas, Oostelikes, Titans en Oostelike Provinsie gespeel en almal geklop. “Die Titans was die moeilikste teenstanders want die Pretoriase skole is altyd sterk. Ons kolwers het egter in die wedstryd baie goed gedoen.”

Hy speel al sedert sy graad vyf-jaar provinsiale skoolkrieket en mik daarna om vanjaar die Mpumalanga o/19-span te haal – hoewel hy dan nog 17 jaar oud sal wees.

Soos enige jong speler het hy drome om sy krieketloopbaan tot groot hoogtes te voer. En in Potgieter se geval koester hy oorsese drome.

“Ek sal graag na skool na Engeland wil gaan om krieket te speel. Ek sal onder begin en myself opwerk om graafskapkrieket te speel. Yorkshire (‘n graafskap wat al spelers soos Geoffrey Boycott, Jacques Rudolph en Michael Vaughan in hul geledere gehad het) is vir my ‘n goeie klub met ‘n ryke tradisie.”

• Hoogste telling: 133 teen Limpopo

• Beste boulontleding: 7/9

• Sy syfers gedurende die o/17-week:

Paaltjies: 10

Lopies afgestaan: 88

Gemiddeld: 8.80 lopies per paaltjies (vierde beste onder top-boulers)

Lopies afgestaan per boulbeurt: 2.23 (beste onder top-boulers).

• Sy 5/8 teen Limpopo was die beste boulontleding op die eerste dag van die toernooi.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button