‘n Ys(ter)like prestasie
Swem. Fietsry. Draf. Drie woorde wat waarskynlik vir deelnemers van die afgelope naweek se 70.3 Ironman in Oos-Londen 'n heel ander betekenis het. Nou in leketaal kan die Ysterman soos volg beskryf word: jy swem ver (1.9 kilometer), draf verder (21.1 kilometer) en ry vrék ver fiets (90 kilometer). En dan het die wind ook kwaai gewoed.
Maar rukwinde kan ook vir ekstra oemf in jou seile sorg, soos wat Magda Nieuwoudt bewys het.
Dié Middie-onderwyseres het die altesaam 113 kilometer in ‘n tyd van 5:36:24 kafgedraf om derde in haar ouderdomsgroep te eindig. O ja, in die proses het sy sommer ook vir die Wêreldkampioenskap later vanjaar in Oostenryk gekwalifiseer!
Die winderige weerstoestande het die drie items moeiliker gemaak, maar die swemafdeling was – ten spyte van die windaangedrewe golwe – vir Nieuwoudt die maklikste.
“Vir die laaste vyf kilometer van die fietsrysessie het die wind reg van voor gewaai terwyl ons ‘n opdraande moes uittrap. Jy moes letterlik alles gee om net te kan beweeg!”
Soos enige sportman of -vrou wat hul sout werd is jou sal vertel, is kopkrag nét so belangrik as fisiese fiksheid.
“Dit is baie belangrik om tydens iets soos die Ysterman in the moment te bly. As jy hardloop, konsentreer net op die kilometer waarmee jy nóú besig is. Moenie dink dat jy nog ‘n verdere 20 kilometer het om te voltooi nie.”
“As jy ook byvoorbeeld goed voel op die fietsry-afdeling, help dit nie jy dink jy is ‘n held nie – daar wag nog ‘n hele drafsessie! Dit is juis hier waar geestelike sterkheid van groot belang is.”
Maar Nieuwoudt het beslis ook die nodige fiksheidvoorbereiding ingesit. Sy het reeds in Mei 2014 begin oefen – maak nie saak of dit reën of 30+°C was nie – sy was op die fiets of in die swembad.
“Die ergste was oor Desembermaand toe dit so warm was. Maar ek was baie bly dat ek in sulke weersomstandighede voorberei het. Gedurende die resies het ek heeltyd vir myself gesê dat ek in soortgelyke hitte geoefen het.”
Ten spyte van haar spogprestasie, bly sy steeds so nederig soos altyd.
“Die Ysterman gaan oor soveel meer as net tye en prestasies. Daar is byvoorbeeld R475 000 ingesamel vir ‘n welsynsorganisasie in Oos-Londen, terwyl die 2 000 vrywilligers baie goeie werk gedoen het. By die oorgangspunte spring jy byvoorbeeld net van jou fiets af en hulle bêre jou fiets vir jou. Dit is húlle en die ondersteuners wat die Ironman maak.”
Een ding is seker: Magda Nieuwoudt gaan haar beste gee by die Wêreldkampioenskap.
Dis net hoe sy rol.
• Nieuwoudt se tye (verlede jaar s’n tussen hakies):
Swem (1.9km): 29:49 (32:22)
Fietsry (90km): 3:05:57 (03:17:01)
Hardloop (21.1km): 1:54:07 (01:52:19)
Algeheel (113km): 5:36:24 (05:52:19)
• Die wêreldkampioenskap is op 31 Augustus in Salzburg, Oostenryk.