Groot dinge op kriekethorison
Groot dinge wag op die Middiekriekethorison met die amptelike opening van die Verwey Krieketklubhuis op 18 Februarie.
En die dorp kan dan ‘n krieketfees verwag.
Eers sal laerskool uitnodigingspanne mekaar die stryd in ‘n wedstryd van 12 boulbeurte per kant aansê, waarna die skool se eerste span teen die Middie Old Bats (oud-spelers) te staan gaan kom. Die eerste aflewering van dié kragmeting sal om 15:00 afgestuur word.
• Intussen het Middies se jong eerste span tweede in die Mpumalanga Pr20-reeks geëindig na hulle verlede Vrydag teen Nelspruit in die provinsiale eindstryd verloor het.
Die Laevelders was toe net té sterk en veral hul boulwerk het gesorg dat die Middiekolfbattery nie behoorlik aan die gang kon kom nie.
• Die skool se o/15A span het vir Montana met 26 lopies in die Finsbury-reeks geklop.
MHS het 169 lopies aangeteken met Arno Kruger se 27 die hoogste telling.
Daarna het goeie boulwerk deur Jaco Steyn (4/17) en Coenraad Visser (4/38) die Pretorianers laat les opsê.
