Draf in die natuur…
Bergfiets ry en velddraf, trail running, is twee van die sportsoorte wat die vinnigste in Suid-Afrika groei. En Middelburg bly beslis nie agterweë nie.
Die dorp spog al met verskeie suksesvolle bergfietswedrenne (waaronder die gewilde Alzu Tour de Farm) en Middelburg Marathonklub se Silver Falls Trail Run.
Nóú begin Buffalo Gorge (op die Loskopdampad) ook met hul eie Trail Run-reeks wat op 7 Maart afskop. Daar word beplan om dit ‘n maandelikse gebeurtenis te maak.
Volgens Johan Raath – wie al verskeie bergfiets-, ysterman- en halfystermanatlete afgerig het – lê die bekoring van so wedloop in die feit dat deelnemers buite in die natuur kan wees.
“Die natuurskoon is altyd baie mooi en die terrein is ook baie meer tegnies as ‘n gewone padwedloop.”
Raath behoort te weet waarvan hy praat. Tussen Johannesburg, Pretoria en Middelburg het hy meer as 70 atlete wat hy brei, waaronder Gustav Basson wat verlede jaar in Europa aan verskeie groot padfietsbyeenkomste deelgeneem het.
Twee van sy ryers was ook ‘n paar jaar terug by die Trans Alps-wedren in Duitsland in aksie.
Deelnemers kan by Buffalo Gorge tussen afstande van 17km (Avontuur Vallei), 6.5km (Wetland Trail) en 2.5km ( Bobbejaan Loop) kies. Die 17km-wedloop sal meer tegnies wees, terwyl die 2.5km-wedloop geskik is vir kinders.
• Die Gorge Trail Running-reeks:
Buffalo Gorge Avontuur Vallei Trail: 17km (R100)
Buffalo Gorge Wetland Trail: 6.5km (R80)
Buffalo Gorge Bobbejaan Loop Trail: 2.5km (R25)
• Datums: 7 Maart, 11 April, 9 Mei, 6 Junie, 4 Julie.
• Inskrywingsvorms is van hierdie week beskikbaar. Deelnemers kan ook by Sportsman’s Warehouse in eMalahleni inskryf.
• Vir meer inligting, besoek www.buffalogorge.co.za. Johan (071 509 3463) of Ryk (083 528 9586) kan ook gebel word.
• Om meer te weet van Raath se afrigting, stuur ‘n e-pos na performance.based@yahoo.com
