Groot Vyf-tennistitel vir Rooies
Die seuns- en dogtertennisspanne van HTS Middelburg het aan die Groot 5 Tenniskampioenskap in Nelspruit deelgeneem, waar daar kragte gemeet is in enkel- én dubbelspelwedstryde.
Die Rooies was deel van agt toptennisskole wat mekaar die stryd aangesê het: Nelspruit, Monument, Ermelo, Waterkloof, Affies en Boland Landbouskool. HTS Middelburg se spanne eindig onder die top drie van hiérdie uitsoekgeselskap!
Die skool se eerste dogtertennisspan word as die Groot 5-Kampioene gekroon en maak só geskiedenis deur die skool se eerste dogtertennisspan te wees om dié gesogte titel in te palm!
Die dogters se wentellings is soos volg:
17-7 teen Monument
21-3 teen Ermelo
5-4 teen Waterkloof
HTS Middelburg klop Affies reeds in die enkelspelwedstryde deur vyf uit ses stelle te wen en so die Groot 5-Kampioene te word!
Die seuns het hul ook baie goed van hul taak gekwyt. In hul eerste wedstryd klop die Rooies hul Nelspruit-teenstanders waarna hulle vir Monument oortuigend wen.
Hulle buig egter die knie teen Waterkloof om tweede in hul groep te eindig. In hul uitspeelwedstryd teen Boland Landbouskool word spel beëindig as gevolg van reën en hulle deel die derde plek met die Bolanders.
