Rugbybesoekers word weggewys
Die rugbyklub se stadionligte is reeds vir etlike maande lank af nadat die klub onder koperkabeldiewe deurgeloop het. Die munisipaliteit weier om dit te vervang.
Die Pumas sou verlede Saterdag teen Limpopo Bulle op die Kees Taljaard stadion speel, maar is weggewys omdat die stadion se ligte af is. Dié wedstryd moes toe na die Secunda Sasol Stadion verskuif word.
Mnr. Herman Pelser van die rugbyklub het al verskeie klagtes by die munisipaliteit ingedien, wat op dowe ore beland het.
Die kabels is reeds in Novembermaand verlede jaar as gesteel aangemeld. Meer as 100 meter se kabels is tydens die voorval gesteel.
“Daar is vir my gesê dat daar nie geld in die begroting oor is om die kabels te vervang nie en dit nagenoeg R80 000 gaan kos. Ons sit in tamatiestraat!,” sê mnr. Pelser.
“Die munisipaliteit sê dat die versekering weier om uit te betaal omdat die klub reeds onder diewe deurgeloop het,” sê mnr. Pelser. “Ons dorp se beeld word in ‘n swak lig geplaas omdat ons besoekers moet wegwys.”
Boonop het die jaarlikse Liga-rugbybyeenkoms begin wat gaan eindig met ‘n hoogtepunt op 6 Junie, wanneer Middelburg teen Ferro’s by die Middelburg rugby-klub te staan gaan kom.
Die wenner van die liga gaan deur na die Gemeenskapbeker wat landwyd gespeel word en moontlik in Middelburg op televisie uitgesaai gaan word.
Die dorp se jaarlikse Derby word ook in die vooruitsig gestel wanneer die Old Boys van Hoërskool Middelburg en HTS Middelburg mekaar die stryd aansê.
Maar dit is nie mnr. Pelser se enigste kopseer nie. Die rugbyspanne kan net oefen tot sonsondergang.
“Moet ek blikskud of wat? Ek weet nie meer wat om te doen nie!,” sê mnr. Pelser moedeloos.
Die Steve Tshwete munisipaliteit is genader vir kommentaar maar het teen saktyd nog geen terugvoering gegee nie.
