Draf in natuurskoon
11 April is dit weer tyd vir die tweede veldwedloop (Trail Run) in die reeks van vyf by Buffalo Gorge Adventure Centre.
Dit is ’n uitstekende laaste oefengeleentheid voor die Loskop 21km die naweek daarna.
Die eerste wedloop, wat op die 7 Maart plaasgevind het, was ’n groot sukses en die roetes en natuurskoon is deur die hardlopers geniet. Daar is heerlik gekuier met ’n worsbroodtjie en koeldrank na afloop van die drawwery.
’n Tweede 17km wedloop word bygevoeg wat baie meer geskik sal wees vir die hardlopers wat na ’n baie tegniese hardloop ondervinding soek, met ’n nuwe roete wat deur ’n berg en kloof gaan en dan aansluit met die standaard 17km roete voor ’n waterpunt.
Die 10km wedloop was die gewildste onder die hardlopers en as gevolg daarvan word die roete onveranderd gelaat vir die wedloop van 11 April.
Al die roetes word skoon gesny, met twee waterpunte op die roete van die 10km en die 17km. Die hardlopers word te perd uit die begin area vergesel en word dan gemonitor op die roete om almal se veiligheid te waarborg.
Sportmans Warehouse in eMahaleni wat ’n mede-borg van die reeks is verskaf weer geskenkbewyse aan die wenners van die verskillende wedlope en sal weer die waterpunte beman.
Twizza Middelburg verskaf alle koeldranke vir die waterpunte.
Die datums vir die opkomende wedlope is as volg 11 April, 9 Mei, 6 Junie en 6 Julie 2015.
Inskrywingsvorms is op die webblad www.buffalogorge.co.za beskikbaar of Johan of Ryk kan direk gekontak word vir enige verdere inligting.
Johan: 071 509 3463. Ryk: 083 5289586.
