Sport

Middelburger in aksie by IPL!

AB de Villiers van die Royal Challengers Bangalore maak gereed om vir Mohit Sharma van die Chennai Super Kings in die M. Chinnaswamy Stadion in Bengaluru te trotseer...

Sharma boul ‘n vol aflewering en De Villiers skep die bal (op die voorvoet, nogal) oor diepby vir ‘n ses. In die kommentatorshokkie sing Danny Morrison die Suid-Afrikaner se lofsange, terwyl die dansers voor die gillende skare ‘n paar energieke danspassies uitvoer.

Dit is juis dié dansers wie Middelburg met ekstra belangstelling moet dophou. Want die dorp se eie Vianca Pretorius is gekies om deel van die Indiese Premierliga-feesvieringe te wees.

“Ek is nog self effe oorbluf,” laat weet sy na ‘n besige dag by die ambassade in Pretoria. Pretorius het haar CV na ‘n maatskappy gestuur en is kort daarna laat weet dat sy haar tasse vir die IPL kan pak.

Sy weet egter nog nie vir watter span sy gaan dans nie. “Mense het my laat weet dat as ek self kan besluit, moet ek die Mumbai Indians kies.”

Volgens Pretorius is fiksheid ‘n groot vereiste.

“Ek oefen vir ure om goed te lyk; nie so rooi in die gesig soos ‘n tamatie wat op ‘n avontuur is nie. Grimmering steek dit nie weg nie,” sê sy laggend.

Met talle internasionale supersterre in aksie, is die kanse goed dat Pretorius en kie gereeld hul danspassies sal moet uithaal. As ‘n kolwer soos David Warner byvoorbeeld ses viere in een boulbeurt slaan, sal sy bereid wees om ses keer agtereenvolgens te dans?

“Natuurlik sal ek. Ek sal die dans ‘n duisend keer na mekaar doen as ek moet. Sal nooit nee vir dans sê nie.”

Die kanse is ook goed dat sy na ‘n paar funksies genooi kan word. “Maar of hulle ons nou nooi of nie, sal ek ‘n plan maak om daar in te kom – wie sal nou nie saam al die spelers wil kuier nie?!”

Wedstryde word van 8 April tot 24 Mei gespeel en Pretorius hoop om die hele toernooi daar te bly. “Dit sal alles afhang van die span vir wie ek dans. As hulle goed doen (en hulle beter!) bly ek daar vir sewe weke.”

“Ek kan nie meer wag om te gaan nie!”

• Slegs 10 Suid-Afrikaners is gekies om in Indië te gaan dans.

• Die toernooi begin op 8 April wanneer die Kolkata Knight Riders die Mumbai Indians op Eden Gardens aanvat. Spelers soos Morné Morkel, Sunil Narine, Marchant de Lange en Kieron Pollard sal in aksie wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button