Sport

Burt is Comrades se hartklop

Almal hou van 'n inspirerende storie en Burt van Schalkwyk se 2015 Comrades-avontuur is 'n merkwaardige verhaal.

Op 4 Februarie 2015 het hy ‘n hartaanval gekry na hy die Rooies-nagwedloop voltooi het. Kort daarna het hy vir ‘n dubbele hartomleidingoperasie gegaan.

Op 1 Mei het hy ‘n halfmarathon aangepak en op 31 Mei het hy sy 15de Comradesmarathon in ‘n tyd van 10:47 klaargemaak!

“Ek het regtig nie beplan om vanjaar te hardloop nie. Maar die laaste maand of wat voor die Comrades het ek stadig begin hardloop en agtergekom dat my fiksheid vinnig besig was om op te bou. Dit het naweek na naweek verbeter.”

Sy klubmaats by Eskom Gijimas het hom ook baie aangemoedig en skaars drie maande na sy hartaanval, tree hy by die wegspring van die 90ste Comradesmarathon in Durban aan.

Gewapen met die gebede en ondersteuning van familie en vriende, sowel as ‘n hartklopmonitor om sy vordering dop te hou, het hy gesorg dat hy die byna 90 kilometer van die op-wedloop klaarmaak.

Van Schalkwyk vertel dat sy tye by vorige Comradesmarathons stelselmatig begin afneem het, hoofsaaklik omdat sy hart nie genoeg suurstof gekry het nie. Hy het egter vanjaar se wedloop gemaklik voltooi – ten spyte van die hitte.

“My hart het nog nooit so goed soos nou geklop nie. Ek kan nou weer ernstig hardloop en ‘n tyd jaag.”

Gaan hy dus volgende jaar weer die wedloop aanpak?

Sonder enige twyfel.

In die geskiedenis was Hektor en Achilles die groot helde van die Bronstydperk. Skuif hulle na die agtergrond: die Comrades se Bronsmedalje het nou vir Burt van Schalkwyk as held. En in 2015 is sy storie baie meer relevant.

• Sy beste Comradestyd is 8:40.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button