Jong Pumas grom in Haailand
Voorspellings kan jou soms lelik op jou neus laat lyk, maar sjoe, as jy na die Cravenweek Pumas se spelpeil kyk, kan jy goeie dinge by die nasionale week verwag.
‘n Paar weke na hulle 29-10 met die Blou Bulle op Hoërskool Middelburg se veld afgereken het, het hulle Maandag met die 43-31 met die Haaie klaargespeel. En dit nogal op die Kwazulu-Natallers se tuisveld.
Die span het in die tweede helfte ‘n rustydagterstand van 12-23 uitgewis om uiteindelik met 12 punte te wen.
HTS Middelburg se JC Pretorius was saam met Mfundo Ndlovu (Standerton) en Pieter Bekker (Ermelo) die groot uitblinkers.
Die Pumas speel volgende week teen die Leeus by die jaarlikse Bondedag. Die Johannesburgers se span is gelaai met Monumentsterre, maar soos altyd sal Gert van der Westhuizen (afrigter) sy huiswerk doen. Die span het immers reeds met twee van die groot unies klaargespeel.
Hul openingswedstryd by die Cravenweek is teen die Grens.
• Uitslae (Pumas se tellings eerste):
o/16 Stedelik: 27-26
Grant Khomo: 10-54
o/18 Stedelik: 33-21
o/18 Platteland: 9-17
Cravenweek: 43-31.

