‘n Schutte(rende) prestasie
In 1995 het Francois Pienaar die IRB-wêreldbeker omhoog gehou. André Schutte het ook in die einste jaar begin stoei.
Druk nou die versnelknoppie na 2015 en meeste van die land se top-rugbyspelers gaan soek hul heil by oorsese klubs. Schutte bring egter steeds die medaljes huis toe.
In een van die moeilikste Afrika Kampioenskappe nóg – uit die 16 Suid-Afrikaanse manstoeiers is daar net sewe medaljes gewen – het die onderwyser van Laerskool Staatspresident C.R. Swart met ‘n brons medalje van Egipte teruggekeer.
Schutte het die silwer in sy Grieks/Romeinse-kategorie (98 kilogram tot 130 kilogram) met ‘n enkele punt misgeloop. “Ek het egter reeds vir my teenstander ‘n pakslae belowe wanneer ek hom volgende by die Afrika Spele in Brazzaville teëkom!” sê hy laggend.
Hy vertel dat sy pa hom aangemoedig het om te stoei – hoofsaaklik om met sy rugby te help.
“Ek onthou ek het destyds op ‘n Donderdag begin stoei. Drie dae later was ek in aksie by my eerste wedstryd – ek het hom darem gewen!”
Sedertdien was hy al junior Afrika-kampioen (2008), vierde by die Grand Prix-toernooi in Spanje, ‘n silwermedaljewenner by die Statebond Kampioenskap en sesde by die 2010 Statebondspele in Indië.
Schutte stoei vir die Inyathi Stoeiklub in eMalahleni. Hy staan soggens 04:00 (selfs in die wintermaande) op om te oefen en na sy skoolafrigterspligte keer hy terug na die gimnasium of mat. Een keer per maand woon hy ‘n nasionale stoeikamp in Pretoria by.
Oefeninge sluit optrekke, sowel as krag- en spoedwerk in.
“Ek is nie die beste stoeier wat daar is nie, ” sê hy beskeie.”Ek probeer om my teenstander se gelyke te wees wat krag betref en hom dan uit te oorlê met fiksheid en stamina.”
“My afrigter leer my stoei en my pa gee vir my kragoefeninge.’n Natuurlike sportman is ek nie – ek is gedril om ‘n stoeier te wees!”
Die talle medaljes vertel egter ‘n ander prentjie: Schutte is ‘n gebore sportman.
• Die Afrika Spele is Septembermaand in Brazzaville, Kongo.
