Sport

Video: Bokser jag SA-titel

As Herman Potgieter enige bokser in die wêreld kon wees, sou hy Arturo Gatti se bokshandskoene wou aantrek. Juis omdat dit nie vir die Kanadese bokser oor wen of verloor gegaan het nie, maar wél oor hoe hy geboks het.

Die 26-jarige Middelburger is tans besig om sy eie bokspad oop te veg. Hy meet op 29 Julie kragte teen Bevan Beckman by Presleys in Pretoria. En dit is net nóg ‘n tree nader aan sy uiteindelike droom om die volgende SA Juniorswaargewigkampioen te word.

Potgieter vertel dat die son letterlik by Dagbreek Koshuis in Stellenbosch oor sy boksloopbaan opgekom het. “Dit het aanvanklik harde werk geverg om my voete in die Matie-kryt te vind. Maar hoe meer jy oefen, hoe beter word jy.”

Van sy trotste boksoomblikke was juis in Stellenbosch: soos die keer toe Dagbreek vir Helshoogte in die derby ore aangesit het en toe hy vir Leonard van Ieperen afgerig het.

Nou, net ‘n paar jaar na sy koshuisbuiging, is hy vierde op die nasionale swaargewigboksranglys en spog met ‘n professionele rekord van 3-0.

“Ek het na my studies vir myself ‘n jaar gegun om uitsluitlik op boks te konsentreer. Vir die eerste keer het ek in Gert Strydom ook ‘n goeie afrigter.”

Strydom – wie al met verskeie wêreldkampioene gewerk het – se boksgimnasium is in Johannesburg en Potgieter bly gedurende die week by sy oom om nader aan die oefenplek te wees.

Potgieter is ‘n bokser wat daarvan hou om in die drukkoker te bly en sy teenstander op sy tone te hou. “Jy moet fiks wees om dit te doen en bereid wees om houe op die ken te vat. As daar ‘n fout gemaak word, moet jy dit uitbuit.”

Tog sal Beckman nie op 29 Julie kanonvoer wees nie. Hy het vroeër vir nege rondtes teen die huidige Suid-Afrikaanse titelhouer, Deon Coetzee (familie van die voormalige wêreldswaargewigkampioen, Gerrie Coetzee), staande gebly.

Strydom is van mening dat Potgieter die wa deur die drif teen Beckman kan trek.

“Herman is ‘n intelligente bokser wat blitsig die dinge kan toepas wat jy hom leer. Sy grootste sterk punt is egter sy moed. Ek het al vantevore met Bevan gewerk en hoewel sy boksstyl soortgelyk as Herman s’n is, glo ek dat Herman se fiksheid deurslaggewend kan wees.”

“Herman het ‘n kans (om te wen). Die is sy eerste kragmeting in die juniorswaargewig-klas en ons toets die water met hierdie geveg, maar ek is baie tevrede met wat ek sien.”

Gedurende die week skerm hy teen van die groot name in die bokswêreld, soos Kevin Lerena en Malawië se Isaac Chulemba. “Isaac is nommer een op die WBC-ranglys. Hy is die ou wat my al die hardste geslaan het,” sê hy laggend.

Potgieter oefen bykans elke dag en sy roetine sluit tegniese werk, fiksheid en ure in die gimnasium (“nie met swaar gewigte nie, dit maak jou stadig”) in. Naweke draf hy en skaaf aan sy fiksheid.

“Dit is my mikpunt om die volgende SA Juniorswaargewigkampioen te word. Daarna sal ek dinge hou vir hou neem.”

Strydom voer egter ook ander planne in die mou. “Ek wil sy rekord opbou na 10-0 en dan kyk of hy nie naam in die buiteland kan maak nie. Hy het die potensiaal om dit te doen.”

• Potgieter se rekord:

Amateurrekord: 15-1

Professionele rekord: 3-0

• Hoe hy opweeg:

Lengte: 1.80m

Gewig: 96 kg

Reikwydte: 78 cm.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button