Schalk skiet in VSA
Kolskoot vir Schalk Cullinan! Cullinan is die enigste skut in Mpumalanga wat vir die Protea Bisleyspan (vir langafstand skiet) gekies is!
Hy het Maandag saam met die span na Camp Perry Ohio in die VSA vertrek om aan die Palma wêreldkampioenskappe deel te neem. Die toer strek oor drie weke en hulle sal op 17 Augustus terugkeer.
Die span bestaan uit 16 skuts en beamptes. Hulle skiet in spanverband en ook individueel. Bisley word geskiet met gaatjie visier .308 Win kaliber gewere vanaf 300m tot en met 900m.
Cullinan was ‘n stigterslid van die Middelburg Bisley klub en die Mpumalanga Bisley Unie in 1998.
Hy verwerf Springbokkleure in 1995 en toer na Nieu Seeland vir die Palma wêreldkampioenskap.
Daarna verander dit na Proteakleure wat hy in 1997 verwerf, waartydens hy na Australië en Tasmanië toer. In daardie jaar is hy die kampioen van die SA Bisley kampioenskappe in Bloemfontein en word gekies om aan die Statebond Spele in Maleisië deel te neem.
Slegs twee Bisley skuts uit Suid-Afrika word gekies en hulle verower ‘n silwer medalje in die pare afdeling!
Daarna was hy betrokke met junior opleiding (onder 19) en neem die SA Junior Protea Bisley spanne in 2009 en 2011 na Bisley in Engeland as bestuurder van die span. Beide spanne verower silwer medaljes.
• Die Protea Bisley webblad kan besigtig word by www.satrteam.com en die Suid-Afrikaanse Bisley Unie webblad by www.sabisley.com.
