Sport

Pieter maak naam in die rugbywêreld

Pieter Morton (23) 'n oud-leerling van Ben Viljoen leerling is tans woonagtig in Abu Dhabi, waar hy vir die Abu Dhabi Harlequins professioneel rugby speel.

Pieter het vanaf ‘n baie jong ouderdom geweet dat sport ‘n groot rol in sy lewe speel, buiten rugby het hy ook ‘n groot liefde vir krieket gehad. Sy pa, Pieter Morton (senior) was nog altyd sy grootste rolmodel en het sy pa hom ook in die laerskool en in verskeie provinsiale spanne afgerig, van ekstra maagoefeninge en band-sleep kan mense hom niks vertel nie.

“My ouers en sussies het my nog altyd ondersteun in al die sport wat ek aangepak het en is ek baie dankbaar vir dit, ek glo nie baie ouers en familielede weet wat dit eintlik vir iemand beteken om ten volle ondersteun te word in hul sport nie,” sê Pieter. Sy liefde vir rugby het in die loop van die jare net gegroei en so het hy sy drome ontwikkel om eendag ‘n professionele rugbyspeler te word.

Pieter het in 2010 vanuit Hoërskool Ben Viljoen matrikuleer en is gekies as onderhoofseun van sport. “Skoolrugby was vir my verseker een van die lekkerste, die gees en atmosfeer is iets besonder, wat ‘n eer was dit nie om my skool se eerste span te kon verteenwoordig nie en om as kaptein uit te draf op die veld,” sê Pieter.

In 2010 het hy ook die o/19 Pumas verteenwoordig tydens die Curriebekerkompetisie. Hy was ook aangewys as Senior rugbyspeler van die jaar tydens die prysuitdeling in 2010.

Na skool het Pieter dadelik rugby professioneel aangepak deur by die Vodacom Blou Bulle in 2011 te begin.

In 2012 het Pieter die Universiteit van Pretoria se Young Guns span verteenwoordig in die Varsitybeker kompetisie onder die beroemde afrigter, Paul Anthony (wat tans betrokke is by die Sharks se senior afrigting span) en het as kampioene van die Young Guns Varsitybeker weggestap.

Middel 2012 het hy ‘n aanbod vanaf NUIM Barnhall in Leinster aanvaar en hul verteenwoordig tydens die All Ireland Liga. “Dit was vir my ‘n groot stap in my rugbyloopbaan omdat ek met die wete Ierland toe gegaan het dat my junior rugby verby is en ek nou intree by senior rugby. Ek was net 20 jaar oud gedurende daardie tyd en was dit vir my ‘n groot besluit om my familie en vriende te verlaat en vir tien maande in Ierland te woon,” sê Pieter.

Pieter het in 2013 die Vodacom Vrystaat-Cheetahs te verteenwoordig tydens die o/21 Curriebekerkompetisie en is verkies vir die Cheetahs Sewes Span (afgerig deur die huidige Cheetah vleuel, Eddie Fredericks) na sy suksesvolle Curriebekerseisoen.

Na sy tyd in Bloemfontein het Pieter verskeie aanbiedinge vir die Varsitybekerkompetisie in 2014 ontvang en het hy en sy agent, Gert van der Merwe, besluit dat die Universiteit van Johannesburg die beste opsie sal wees vir sy rugbytoekoms en het in November met sy kontrak in Johannesburg begin. “Dit was vir my ‘n hoogtepunt in my loopbaan om voor so ‘n groot skare te kon speel en jou land se volkslied te kon sing, dit was ‘n groot en emosionele eer gewees om vir die Varsitybeker te kon speel,” sê Pieter.

Na agt maande by die Universiteit van Johannesburg het hy in kontak gekom met klubs in Engeland, Nieu-Seeland en Abu Dhabi.

In September 2014 het Pieter by Abu Dhabi Saracens begin speel, waar hy in vier toernooie deelgeneem het: UAE Premiership, Eden Park Sewes, Dubai Sewes en die Wes-Asië kampioenskap wat hul gewen het in 2015. Teen die einde van die seisoen het Pieter reeds 24 drieë vir Abu Dhabi Saracens gedruk.

“In die tyd wat ek die aanbod aanvaar het by Abu Dhabi Saracens, was my pa baie siek, maar het hy my steeds ondersteun en kon hy nie wag vir my om my ses maande by Abu Dhabi Saracens te spandeer nie. Dit is een van die moeilikste ervaringe om vir jou familie totsiens te sê op die lughawe, met die wete dat maande gaan verbygaan waar jy hulle nie gaan sien nie. Glo my, dis trane van albei kante af. Die moeilikste was om op die vliegtuig te klim na Abu Dhabi na Saracens, twee dae na my pa se verassingsdiens. Die gevoel om jou twee sussies en ma agter te laat na hulle jou die meeste nodig het, wens ek niemand toe nie. Die wete dat my pa so opgewonde was vir my om Saracens te verteenwoordig, was genoeg vir my om op die vliegtuig te klim en my familie trots te maak,” vertel Pieter.

Pieter het ook in dié jaar besluit om te skuif vanaf Abu Dhabi Saracens na Abu Dhabi Harlequins waar hy glo hy baie ondervinding sal opbou as gevolg van hul ervare afrigters, soos Jeremey Manning (die Nieu-Seelander wat vir Munster in Ierland en vir Newcastle Falcons in Engeland gespeel het).

Pieter is tans besig om met ‘n agent in Frankryk te praat om moontlik ‘n kontrak in Frankryk los te slaan na sy seisoen by Abu Dhabi Harlequins.

“Ek dink enige professionele rugbyspeler sal tot die hoogste vlak, wat hy moontlik kan, wil strek. As ek nog twee seisoene in die UAE speel, kwalifiseer ek om vir internasionale spanne te speel, maar ek sal gaan waar God my plaas. Ek dink ook enige Suid-Afrikaner sal vir die Springbokke wil speel, maar is dit ‘n baie moeilike pad en glo ek min rugbyspelers kry die geleentheid. My toekomsplanne behels verseker om elke jaar te groei en nóg beter te doen en ‘n voorbeeld te stel waar die pad my neem,” sê Pieter.

• Pieter vertel dat sy pa se invloed op sy

rugbyloopbaan en sy lewe vir hom alles beteken het en steeds doen. “Die passie wat my pa in sy hart gehad het, sal ek nooit vergeet nie. My pa was my en my sussies se held. Ek sal met die beste van my vermoë alles doen om my pa tot die dag wat die Here my kom haal, trots te maak. Graag wil ek ook vir my ma, Belinda Morton baie dankie sê vir wat sy in my lewe beteken en vir die ondersteuning deur al die jare, vir my twee sussie, Natasha Morton en Joy Booyse wil ek ook dankie sê vir als wat hulle vir my doen en gedoen het. Vir my familie en vriende vir die hulp en ondersteuning wil ek ook dankie sê, maar die belangrikste, sê ek dankie vir Abba Vader vir al die talente en geleenthede wat Hy vir my gegee het.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button