‘n Bul van ‘n terugvegpoging!
Hoërskool Dr. E.G. Jansen se eerste rugbyspan het Dinsdagmiddag vol selfvertroue in die halfeindstryd van die Beeldtrofee op ACDC se Thunderstruck uitgedraf.
Maar na ongeveer 70 minute se speeltyd was dit ‘n oorblufte Boksburgspan wat laat in die kragmeting deur ‘n Rooies-weerligstraal platgeslaan is.
HTS Middelburg se Rooi Bulle is deur na die eindstryd van die reeks, danksy ‘n skitterende terugvegpoging in die tweede helfte waar hulle 29 punte aangeteken het om uiteindelik 43-41 te wen. In die proses het hulle emmersvol karakter getoon, terwyl die tuisspan op die harde manier geleer het dat ‘n gemaksone ‘n lelike en gevaarlike ding kan wees.
Met die telling op 14-34 en E.G. Jansen se Handré Stassen wat die Rooies met minagting boelie, het niemand die Rooi Bulle veel van ‘n kans gegun om na die eindstryd deur te dring nie.
“Dit was absoluut karakter. Baie min het op ‘n stadium geglo dat die span dié een sou wen. Behalwe die 15 spelers op die veld, hulle het nóóit ophou glo nie,” sê ‘n trotse Coene Nolte (afrigter).
Daar word tot vervelens gesê dat ‘n kaptein van voor moet lei. En dit is presies wat Eric Basson gedoen het.
Die agsteman het vier drieë – insluitend die uiteindelike wendrie – gedruk en het saam met sy voorspelers die veel groter Boksburgers goed by die afbreekpunte opgedons.
Dan het die plaasvervangers ook vir nuwe momentum gesorg. Waar die beginspan nie sommer die bal lug gegee het nie, het Waldo Conradie en kie met hul verskyning op die veld nie geskroom om die bal na die punte te stuur nie.
Dit was juis Ryan Cloete se skitterende breekslag in die tweede helfte wat die Rooi Bulle weer momentum gegee het en voor jy jou oë kon uitvee, het E.G. se voorsprong na 38-41 gekrimp.
Met die eindsirene wat in die agtergrond loei, is die bal wéér wyd versprei en Basson het in die hoekie gedruk om een van die beste terugvegpogings in jare af te rond.
Die Rooi Bulle het laas in 1995 die Beeldtrofee omhoog gehou. Daardie gloriedae wink egter weer met hierdie span.
• Dit is die derde keer dat Basson se span in ‘n Beeldeindstryd speel. In 2012 het hulle Monument op hul tuisveld ore aangesit, voor die Krugersdorpers in die daaropvolgende jaar die bordjies verhang het.

