Skut skuur skouers met bestes
'n Skut van Middelburg het skouers geskuur met van die wêreld se bestes tydens die Wêreld Bisley kampioenskappe by Camp Perry Ohio in die VSA.
Schalk Cullinan was die enigste skut uit Mpumalanga wat deel gevorm het van die Proteaspan wat aan die American Match en Palma Wêreldkampioenskappe deelgeneem het. Die Proteas het brons medaljes by beide kampioenskappe gewen.
“Die ander lande blaas so maklik hul eie beuel en dit was ‘n lekker gevoel om hulle te klop. Net om te kon kwalifiseer om te gaan deelneem, was ‘n lewensideaal,” sê Cullinan trots.
Die kampioenskappe is oor drie weke beslis waar daar individueel en in spanverband meegeding is.
Die American Match dien as opwarming vir die wêreldkampioenskappe waar die agtman span deelneem. Daar is twee skywe met vier skuts wat per skyf skiet met ‘n windafrigter vir elke skyf wat die windverstellings doen.
Daar is geskiet oor afstande van 300m tot 1 000m.
‘n Totaal van 12 lande het deelgeneem. Brittanje wen hierdie kompetisie, met Australië tweede en Suid-Afrika derde.
In die individuele afdeling eindig Cullinan 13e uit 560 skuts.
Die wêreldkampioenskappe is op dieselfde skietbaan beslis, maar daar word nét oor langafstande geskiet wat wissel van 800m tot 900m en 1 000m.
Daar word meegeding vir die Palma trofee en deelnemende lande se spanne uit ‘n 16 skuts (vier elk) op vier skywe, elke skyf met sy eie windafrigter.
Suid-Afrika eindig weer derde uit agt lande en Cullinan individueel 23ste uit die 560 skuts.
In 1995 het Cullinan ook gekwalifiseer vir die Palma kampioenskappe in Nieu Seeland. Tydens hierdie kompetisie het Suid-Afrika vyfde geëindig.
Wat die Proteaspan se prestasies so besonder maak, is die dat Suid-Afrika maar slegs sowat 750 Bisley skuts het waaruit hulle die span kon kies. Brittanje het sowat 15 000 skuts en Australië is 50 000 skuts sterk.
• Die skuts neem deel met ‘n .308 Win kaliber enkelskoot skyfskiet gewere met gaatjie (oop) visiere. Daar word deelgeneem in die lêhouding, met net ‘n geweerband en skietbaadjie wat ondersteuning bied.
• Die spanne oefen hoofsaaklik op militêre bane, omdat dit so ‘n groot kaliber wapen is en dit oor die nodige afstande beskik.

