Sport

Span plek in semi kwyt

In wat waarskynlik een van die beste weke vir spelers en afrigters in hul rugbyloopbane sou wees, het in 'n nagmerrie vir die Puma o/21-rugbyspan ontaard, toe hulle ná 'n SARU-tugverhoor hul plek in die halfeindstryd van die Curriebekerreeks kwyt is.

Advokaat Jannie Lubbe (SC) het verlede week ‘n klagte van die Valke gehandhaaf dat die Pumas met spelers speel wat nog by dié Gautengse unie geregistreer is.

Die Pumaspan het wél oorplasingsdokumente vir vier spelers gehad, maar die Valke het aangevoer dat dit deur ongemagtigde persone (klubpresidente) afgeteken is.

Die Pumas het ‘n skitterende seisoen gehad en na sewe ligawedstryde het hulle 34 punte op die punteleer gehad; sewe meer as die Boland in die tweede plek.

In sy bevinding het advokaat Lubbe die onoorwonne Pumas van hul ligapunte na sewe wedstryde gestroop én die unie met R200 000 beboet, opgeskort vir 12 maande.

Dié uitslag het meegebring dat die o/21’s nie meer die Griekwas in die halfeindstryd pak nie, en die wedstrydbepalings is laat verlede week aangepas om die bevinding te akkommodeer.

Die Mpumalanga Rugby Unie het appèl teen die bevinding aangeteken, en na hul sitting, het SARU op 2 Oktober beslis dat die Pumas nou ligapunte van vier kragmetings (teen Grens, Griekwas, Limpopo Blou Bulle en Griffons) verbeur.

Dié nuwe uitslag het beteken dat die span die halfeindstryd met slegs één ligapunt misloop.

Luidens Apie Human (afrigter) wag hulle vir die formele dokumentasie wat die bevindings volledig uiteensit en sal hulle dan daarvolgens hul volgende besluit neem.

Volgens Human het hulle van die Valke-klagte ‘n week voor hul laaste ligawedstryd teen die Griffons op 26 September gehoor. Wat vreemd is, is die Valke se tydsberekening aangesien die twee spanne reeds op 15 Augustus in die openingswedstryd van die reeks in Kemptonpark slaags was. Die Pumas het dié wedstryd na ‘n briljante terugvegpoging in die tweede helfte 43-42 gewen.

Dit is veral ‘n harde slag vir die spelers en afrigters, wat alles reg op die veld gedoen het om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

• Die o/21’s se uitslae gedurende die seisoen (Pumas se tellings eerste):

15 Augustus: 43-42 teen die Valke

21 Augustus: 45-31 teen SWD Arende

28 Augustus: 56-40 teen die Boland

5 September: 26-11 teen Grens

12 September: 30-19 teen Griekwas

19 September: 33-17 teen Limpopo Blou Bulle

26 September: 55-14 teen die Griffons

• In die twee halfeindstryde het die Limpopo Blou Bulle 22-18 met Griekwas klaargespeel, terwyl die SWD Arende die Boland 19-15 gewen het.

• Die o/19 Pumas het Saterdag die einste Valke 39-12 in húl halfeindstryd op Mbombela geklop. Willie Oosthuizen se span speel nou op 10 Oktober teen die Griffons. Ruben Roodt (Hoërskool Middelburg) en JP Mans (HTS Middelburg) het elk ‘n drie in die sege gedruk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button