Sport

Om te hardloop is om asem te haal

As jy die Park Run doen en 'n 1,93 m lange, meer 'ervare' persoon met 'n nommer 15 paar Asics-tekkies hardloop by jou verby, kan jy maar weet dit is oom Danie Joubert. Of soos sy ID sal sê, Gabriel Coenraad Daniel Stoltz Joubert.

Op 16 Desember 1981 het Oom Danie sy vrou en sewejarige seuntjie in ‘n motorongeluk aan die dood afgestaan en op 35-jarige ouderdom het hy besluit om vir die Comrades te begin oefen.

“Ek moes besluit óf ek word mal óf ek begin hardloop. Ek het daar en dan besluit om myself twee jaar te gee om vir die Comrades voor te berei.”

As hy ‘n ding doen, doen hy dit deeglik en twee jaar later hét hy die Comrades voltooi. Dit was die eerste van 12 Comrades wedlope agter sy naam en sy beste tyd later jare was 08:16:00.

“Ek skakel heeltemal af as ek hardloop. Ek is gefokus en monitor my pas die heeltyd. Ek het nog nooit ‘n wedloop klaargemaak en nie alles gegee nie. Na elke wedloop is ek op, gedaan en het ek niks meer oor nie.”

Oom Danie het ‘n BSc-graad in Toegepaste Wiskunde en ‘n Hoër Onderwys Diploma. Hy was vir 22 jaar lank in die onderwys, maar het sy pakket in 1994 gevat en is sedertdien ‘n pensionaris.

As Oom Danie nie oefen en deelneem nie, speel hy aandele op sy rekenaar en verder hou sy drie kinders en vyf kleinkinders hom besig.

Sy analitiese benadering tot alles is opmerklik wanneer jy met hom gesels.

“Iemand moenie vir my sê oefen vat te veel tyd nie. As jy elke dag vir ‘n uur oefen, sal jy in 24 jaar slegs een jaar lank geoefen het. ‘n Mens wen tyd as jy oefen, want jy’s gesonder en lewe langer. Kyk maar hoe lyk mense wat nie oefen nie.”

Hy was nog altyd ‘n man vir individuele sport waar jou grootste teenstander en spanmaat jyself is. Sy beste jaar was in 1997. Hy het alles gewen – van die City to City tot die Klapperkop Pretdraf. Dit was juis by hierdie pretdraf wat Oom Danie self sy wedloopnommer gemaak het.

“Ek het eerste oor die wenstreep gehardloop, maar hulle wou nie vir my die prys gee nie, omdat ek self my wedloopnommer gemaak het. Gelukkig het die man wat tweede gekom het, ek onthou sy van was Visser, gesê dat hy nie die prys verdien nie, want ek was eerste.”

Vir oom Danie beteken pyn of beserings dat jy in die hospitaal moet wees. Hy het nog nooit ‘n ernstige besering opgedoen nie en sê dit is omdat hy na sy liggaam luister.

“Don’t work harder, work smarter.”

Hy glo aan sy hardloophorlosie, wat net ‘n stop en “run” knoppie het, en ook sy “nutritional supplement meal replacement” vir daardie ekstra voedingswaardes “want vandag se kos het nie genoeg vitamiene in nie.”

Op 69-jarige ouderdom oefen oom Danie nog elke dag, maar vat deesdae dinge soos dit kom. Hy verkies dit om in die oggend te hardloop en sê dat sy oë hom bietjie in die steek laat saans.

Oom Danie neem steeds deel aan wedlope en is ook gereeld ‘n beampte. Die volgende wedloop op sy lys is die Golden Games South Africa in Kimberley waar hy vir die Mpumalanga-span sal hardloop.

Sy raad vir beginnerhardlopers is eenvoudig: “As jy dit nie geniet nie, moet dit nie doen nie.”

So as jy weer ‘n Park Run aandurf of net bietjie om die blok draf en jy sien vir Oom Danie, moenie bang wees om ‘n geselsie aan te knoop nie, maar eers na sy sessie, want hy haat dit om te stop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button