Sport

Rooies slaan weer groot kishoue

Die tennisspanne van HTS Middelburg het die afgelope naweek gewys waarom hulle dié tennisskool in Mpumalanga is!

Tydens die jaarlikse Groot 5-Tennistoernooi wat deur Hoërskool Nelspruit aangebied word, het die Rooies hulle reputasie gestand gedoen.

Die eerste dogterspan het in hulle eerste wedstryd te staan gekom teen die gashere en slaag daarin om Nelspruit oortuigend te klop.

In hulle tweede kragmeting sit die Rooies hul skitterende vertoning voort en klop Garsfontein.

Hulle wen teen die uitnodigingspan van Nelspruit in hul laaste groepwedstryd om deur te dring na die finaal teen Hoërskool Ermelo (wat met Monument, Wilgerivier en Merensky afgereken het in húl groepwedstryde).

HTS Middelburg se Anri Pienaar, Shanri Nortje, Riana Wassenaar en Laurike Erasmus wen álmal hul enkelspelwedstryde wat aan die Rooies ‘n stewige voorsprong gee.

Die meisies kraai koning in die dubbelspel om vir die tweede agtereenvolgende jaar met die gesogte trofee in puik geselskap weg te stap!

HTS Middelburg se seuns het ewe goed gevaar en wen ál hul groepwedstryde teen Wilgerivier van Frankfort en Ermelo.

Die gróót verrassing van die toernooi was toe die seuns met `n oorwinning van 18-6 weggestap het teen Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria.

Hierdie skitterende oorwinning verseker vir die Rooies `n plek in die finaal teen Boland Landbouskool van die Paarl.

Hulle slaag egter nie daarin om oor die laaste hekkie te kom nie en verloor die finale kragmeting 5-4 om as naaswenners van die toernooi gekroon te word.

Dylan Hanslo, Derian Janeke en Henco du Plooy was onoorwonne in die enkelspel.

Dit was HTS Middelburg se 10de deelname aan die Groot 5-Toernooi.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
Back to top button