Sport

FLopsport: Tobie van den Bergh

•Skop Gelant Saterdag vir Jan op sy blaker dat sy kers wip. Is seker Jan moes na die tyd gaan ketel uitspoel. (Gaan kyk na die video op www.mobserver.co.za).

•Moet nou nie deurmekaar raak met JAN nie, die ou se naam spel jy in hoofletters, want hy kan kos maak en as jy kan kos maak soos JAN is jy belangriker as Jan wat maar net kan rugby speel. JAN-JAN-JAN, die bielie van die kospot.

•Alla wêreld! Gaan wild by die Bulls. As hulle nie in mekaar vashardloop nie, skop hulle mekaar onder die agterent, of is dit agterwêreld?

•Word berig dat ‘n wit buffel in Suid-Afrika gebore is. Sê een of ander dierekenner dat hy nog nooit gehoor het van ‘n wit buffel nie. Wat dan van ons eie Wit Buffel? Fransie Botha, die bokser?

•En wat dan van ‘n blou bul?

•Sê Smurf hy het nie gedans na die Stormers wedstryd nie, maar hy het Saterdag gedans. Dit is nou behalwe vir sy geskrou op die nuwe Suid-Afrikaanse vrug, Blind-berry.

•Iemand wat wel gedans het was onse Mayor. Sy span het Chiefs opgeNdoro, Pirates 2-0 teen die Amakhosi.

•In hierdie tye waar daar so ge-Zoemmmm word van die Zuptas en die Zoemas is dit lekker om ‘n boodskap op jou nuwe foon te kry van ou Hennie Gif en vroutjie Magda, wat hulle verkneukel aan simpel Floppe. Dis een ding, die Kapenaars kan darem lekker lag, met of sonner tanne.

•Wil julle fietsry of wil julle vakansie hou? Kyk jy so na die Valies wat afgesit het Kaap toe vir die Argus Fietstoer is dit eintlik ‘n lekker vakansie. Sonbrand op strande en lekker eet by tipiese Kaapse straat restaurantjies. Jy is natuurlik nie te oud om volgende jaar ook te gaan vakansie hou nie. Japie Malan het die fietstoer voltooi op ‘n tandem toe hy 92 jaar oud was en nogal in 05:49:00. (Wonder of die ou wat moes trap ook sy suurstofbottel moes saamry?).

•Wees geWarne(r), David wag op die Proteas in die T20 wêreldbeker. Sondag gedink 200 is baie lopies, en toe is dit baie te min met Warner voor die paaltjies.

•Die kommentators by die sewes raak al meer deurmekaar wat ‘n Kwagga is. Eers was dit ‘n “baby zebra” en Saterdag word onse Kwagga toe “an extinct desert zebra who can run fast!”

•In die Mpumalanga Rugby-unie se raadsaal gaan die Springbokke wat uit ons geweste kom vereer word met foto’s. Die eerste Bok uit die ou Suidoos-Transvaal was Polla Fourie wat vir Middelburg Rugbyklub uitgedraf het. Pollie was ‘n legende. Hy was ‘n monster flank en in vele gevegte wanneer Middelburg teen Belfast gespeel het, in die jare toe hy nog vir die Belfasters uitgedraf het. Toer in 1976 saam met Suidoos met die bus Welkom toe. Suidoos wen ver teen Noord-Vrystaat en daar word lekker geskoffel in die stadsaal na die wedstryd. Pollie kry stry met ‘n groot Vrystater. Gaan staan as agttienjarige japsnoet tussen die twee. Vra mooi: “Ag nee, Pollie los hom”. En Pollie luister! Dink nou eers die week, moes seker gelyk het soos ‘n erdwurm tussen twee hotdog broodjies!

•Spoor ou Polla op sy jagplaas op in die Oos Kaap om vir sy foto te vra. En sy eerste woorde: “My !&!^! is jy nogsteeds by die koerant?” Ja, Pollie!

•Ons het met so ou grys bus skooltoe gery, een wat skeef-skeef aangeskuif het, Ou Oela se bus, om by die busstop te kom moes jy ver loop en lank wag, laat kom was uit, in die wintermaande het Issie Rossouw en haar sussies gehuil van die koue. Wanneer ons gewag het, is drie stokkies uitgepak, jy moes voor die eerste stokkie vastrap, voor die tweede een, die derde een…en dan land. Dit was lank voor Blackberries, I-phones, Facebook, Twitter en wat nog alles. In die middae het jy nie huistoe gallop nie, jy het gehardloop. Ma se kos het gewag. Vermaak was in Witbank se myngate rondklim, bloekombome ry, boomhuise bou, teiken met ‘n klip gooi, fietsry en die bosse verken. Sport was reguit resies en rugby. Sien nou ons kinders is op pad na SA’s vir stap. Ai, as ons maar net daai tyd kon stap en gooi vir sport dan was ons almal Springbokke!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button