Middelburg Twizza is T20-kampioen!
Middelburg Twizza is die provinsiale T20-klubkampioenspan na hulle met Sasol en Nelspruit in die uitspeelstryde klaargespeel het.
• Middelburg se openingskragmeting was teen Sasol en die spelers van Secunda het eerste gekolf. Hulle was egter gou in die moeilikheid danksy skitterboulwerk deur Shaun Neethling en Keith Kolesky.
Die derde paaltjie vennootskap was egter in die guns van Sasol, totdat Armand Delport vir Johan Scheepers op 55 skoongeboul het om die telling op 122/3 te laat na 17 beurte te staan te bring.
Hulle het in die laaste drie boulbeurte ‘n verdere 31 lopies aangeteken om op 153/5 te eindig.
Neethling (2/24), Delport (2/25) en Kolesky (1/27) was Middelburg se beste boulers.
Duvan Grobbelaar en Gerhard Vosloo (kaptein) het die taak om 154 te jaag op ‘n moeilike blad baie positief afgeskop met 42 lopies van 22 aflewerings, voordat Vosloo sy paaltjie op 23 verloor het.
Grobbelaar (17 van 11) is kort daarna uit, maar Wihan Cornelius het vasgeskop met 49 van 41 balle tot die 16de beurt met die telling op 130/7. Neethling het ‘n pragtige beurt van 20 van 13 balle gespeel en Armand Delport en Ian Venter het die wedstryd beklink met ‘n vennootskap van 24 van 19 balle met slegs drie aflewerings oor in die wedstryd.
• Middelburg Twizza teen Nelspruit (eindstryd):
Twizza het die loot gewen en besluit om eerste te kolf met die wete dat swak lig ‘n rol kan speel. Die wedstryd het stadig begin en Vosloo is uit met die telling op 30 na vyf boulbeurte.
Daarna het Nelspruit nog twee vinnige paaltjies laat kantel, voordat Neethling en Grobbelaar ‘n vennootskap van 58 aangeteken het. Die kolwers het daarna almal bygedra om op 145/10 na 19.2 boulbeurte te eindig.
Nelspruit het die hele wedstryd net onderkant die benodigde kolftempo gebly en gereelde paaltjies deur Keith Kolesky (2) en Gerhard Vosloo (1) en Ian Venter (1) saam met ‘n goeie uithardloop deur Jean du Plessis, het die telling op 95/5 gelaat na 15 beurte. Die wedstryd is kort daarna gestop weens swak lig met Nelspruit op 101 vir 5 na 16 beurte met 45 lopies nodig in die laaste vier beurte.
Twizza wen die wedstryd met 15 lopies op lopietempo.
• Twizza speel op 16-18 September op Nelspruit in die Titans Klubkampioenskap.
