Sport

JC word Blou Bul in 2017

Mens kry skoolrugbyspelers. En dan kry jy JC Pretorius. Saterdag het hy sy vierde, vyfde én sesde drie teen Hoërskool Middelburg in slegs twee derbywedstryde gedruk. Soos ’n toeskouer tereg van langs die kantlyn opgemerk het: Pretorius is op sy eie 15 punte in ’n Classic Clash werd.

Eers het hy uit ’n lynstaanfout munt geslaan en daarna is sy aanvallende vaardighede ten toon gestel toe hy na binne getrap het om ’n hele rits verdedigers te flous. Die derde en laaste drie was sy gunsteling – hy het deurgebars om voor ’n stampvol Rooies-pawiljoen te druk.

Selfs wanneer dinge nie heeltemal vlot vir die Rooies verloop nie, word Pretorius geprys. Die afrigter van Paul Roos Gimnasium het sy spel byvoorbeeld uitgesonder na die Rooie Bulle se nederlaag van 12-31.

Maar ’n groot speler word nie net aan sy talent geken nie, maar ook vir sy bereidwilligheid om 100% vir sy span te gee. En hy het Saterdag letterlik sy tokse stukkend gespeel.

“Dit was my lucky tokse waarin ek reeds van my graadtienjaar speel. Toe dit skeur moes ek noodgedwonge ’n paar by een van die plaasvervangers leen.”

Die blonde flank het ook só hard gespeel, dat hy twee keer langs die skrums opgegooi het. Dit is toewyding wat mens nie kan aanleer nie, jy word daarmee gebore.

Natuurlik sal groot unies kennis neem van Pretorius se spel en daar was ’n paar kontrakte op die tafel. Op die einde van die dag het hy egter op die Blou Bulle besluit.

Nou tradisioneel is die Pretorianers bekend vir hul stampkarrugby en groot losvoorspelers wat effens eendimensioneel is. Maar onder Nollis Marais is die unie besig om ’n gedaanteverwisseling te ondergaan en die klem word nou op meer beweeglike spelers geplaas.

In Pretorius kan die Bulle hul eie Jaco Kriel kry – ’n speler wat vinnig van die merkie kan versnel en wat die vermoë het om die bal soos ’n agterspeler te hanteer.

Hy is ook ’n gevaarlike sewesspeler en was verlede jaar lid van die SA o/18-span wat goud by die Statebond Jeugspele losgespeel het. Gelukkig gaan sy sewestalent nie verlore nie en hy gaan vir die eerste paar maande van 2017 deel wees van die nasionale sewesopset.

Die kommentators op SuperSport het hom ’n paar keer verkeerdelik na “JC Potgieter” herdoop. ’n Fout wat mens vermoed nie sommer weer in die toekoms gemaak gaan word nie.

Want Johannes Christoffel “JC” Pretorius kan nog diep spore in Suid-Afrikaanse rugby trap.

• Pretorius en sy Rooibulspan speel die naweek teen Hoërskool Nelspruit in die Laeveld.

Rooi Bulle teen Nellies: Ryan Cloete, Japie Kleinhans, Zander Joubert, Boet Heyl, Waldo Conradie, Riekert Barnard, Uys du Preez, Ruvaan Muller, Henco van Heerden, JC Pretorius (kaptein), Louis du Preez, Tiaan de Beer, Tiaan Espag, Ruben Cross, Armando Lubbe. Plaasvervangers: Duart Willemse, Tikka Cilliers, Heinrich Cronje, Marco Koch, Berries de Wet, Andries Koen, Carlo Viljoen, Bryan Jovner.

• HTS Middelburg sal in 2017 weer die FNB Classic Clash aanbied. Hoërskool Middelburg sal dan in 2018 met hul eeufeesvieringe die gasheer speel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
Back to top button