Sport

Kwagga is gereed vir Olimpiese Spele

Kwagga Smith vertel dat sy gunsteling drie van die seisoen die een teen Australië gedurende die Sydney Sewes was.

Die oud-flank van HTS Middelburg het ná ’n tikskoppie twee verdedigers geklop om ’n puik individuele poging af te rond. En hoewel die Suid-Afrikaners nie in dié kragmeting die wa deur die drif kon trek nie, het hulle uiteindelik tweede op die HSBC-sewespunteleer geëindig.

“Die hele seisoen was vir my ’n hoogtepunt omdat ons as span gegroei het. Ongeag van wat die toernooi-uitslag was, ” laat weet hy Dinsdagaand.

Smith het egter die laaste toernooi in Londen weens ’n besering misgeloop, maar sal gereed wees vir die Blitzbokke se Olimpiese veldtog.

“Gelukkig is dit niks ernstigs nie – ek het bloot my enkel geswik en daar is kneusing op een van my spiere wat swelling veroorsaak het. Coach Neil (Powell) het egter gevoel dit sal vir my ’n risiko wees om in Londen te speel en ek is ’n blaaskans gegun. Ek sal egter slaggereed wees wanneer ons met ons oefenkampe vir die Olimpiese Spele begin.”

Die Suid-Afrikaanse sewesspan is die huidige Statebondkampioen en dus weet hulle hoe goud op ’n groot sportverhoog smaak. Tog waai vorige prestasies by die deur uit wanneer ’n nuwe kampioenskap afskop en volgens Smith sal die span eerder op hul vaardighede konsentreer.

“Ek dink ons het beslis ’n baie goeie kans om die Spele te wen. Nie net omdat ons Statebond-goud het nie, maar omdat ons onsself teen die beste spanne kon meet gedurende die jaar se sewesreeks.”

Volgens Smith was dit ’n “ander” ervaring om saam met Springbokke soos Francois Hougaard en Bryan Habana te speel.

“Ek het baie by hulle geleer – as mens én as speler. Ek dink sewes het as sport ook baie respek gekry omdat ’n speler wat in vyftienmanrugby ’n superster is, nie net in die span kon stap en uitstaan nie.”

Hoewel sewes tans sy hoofprioriteit is, verlang hy wel soms na die vyftienmanweergawe van die spel. Maar, soos hy self sê, “die tyd vir dit sal kom”.

Baie is in die media gemaak oor die Bulle wat na Smith vry, maar die sesflank het nog geen uitsluitsel oor sy toekoms nie.

“Ek het nog nie ’n antwoord op wat my planne vir volgende jaar is nie.”

Maar vir eers konsentreer hy op die Olimpiese Spele. En wen die Blitzbokke goud, sal Smith Middelburg se tweede medaljewenner wees, na Josiah Thugwane in 1996 die marathon in Atlanta gewen het.

• Die Olimpiese Spele is van 5-21 Augustus in Rio de Janeiro.

• Smith se hardste teenstander: “Dit moet die héle Fidji-span wees. Hulle almal is talentvolle spelers wat kan aftrap, off-load en sterk verdedig.”

• Volg hy nog HTS Middelburg se vordering op die rugbyveld?

“Ja, ek het nog kontak, maar dit is moeilik om by die wedstryde uit te kom as gevolg van die baie oorsese toere. Maar ek het van hul wedstryde op televisie gesien en ek dink daar is goeie talent in die span.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
Back to top button