Steval Pumas reg vir Curriebeker
Die Steval Pumas het Woensdag, 27 Julie tydens wat beskryf word as ’n ‘hoogs produktiewe strategiese sessie’ ter voorbereiding vir die Nashua Curriebeker, behoorlik uitgehaal en gewys.
Spelers en bestuur het die dag ook koppe bymekaar gesit om te verseker dat hulle reg sal wees om verlede seisoen se uitmuntende wedstryde weer eens werklik te maak.
Daar is onder andere ook hul verwagtinge, spel-planne en doelwitte vir die komende Curriebeker-veldtog gepraat in aanloop na aanstaande Vrydag se wedstryd teen die Cell C Haaie (Sharks) op Mbombela Stadion.
“Dit was ‘n geleentheid vir ons om lig te werp op die goeie en die minder goeie dinge van die vorige seisoen. Ons is deeglik bewus van ons sterkpunte – van dit wat vir ons werk al dan nie – en ook wat ons nodig het om sukses te behaal in vanjaar se Curriebeker-reeks,” het Steval Pumas hoofafrigter, MJ Mentz gesê.
Alhoewel alles nou gereed is vir die spelers om sonder skroom af te skop in hierdie premier toernooi van Suid-Afrika, is daar nog ‘n paar intensiewe opleidingsessies oor vir die span.
Mentz sê dat al wat nou nog oorbly, is om die spelers in rat te kry. “Die vergadering was hoogs produktief en almal voel positief, deeglik voorbereid en gereed om na die beste van ons vermoë te presteer,” het Mentz gesê.
Deel van die Steval Pumas ‘geesvang’ was die vriendskaplike, maar tipies mededingende aksiekrieket wedstryd by die Nelspruit Aksie Sport Arena, voor die dag afgesluit is met ’n braai.
Die verkwikte span is vasberade en gretig om te verbeter op die sesde plek wat hulle tydens verlede jaar se kompetisie behaal het.
“Ons hoop om te bou op die sukses wat ons verlede jaar behaal het tydens wedstryde teen die Cell C Haaie (Sharks), Vodacom Blou Bulle (Blue Bulls) en die Toyota Vrystaat Cheetahs. Ons weet ons beskik oor die vermoë om op die hoogste vlak te presteer,” het Mentz gesê.
Die Steval Pumas se Curriebeker-reis skop volgende Vrydag, 5 Augustus af om 19:20.
