Sport

Faasen nou in Roemenië

Middelburg, Pretoria, Port Elizabeth, George, Rovigo en Boekarest.

Dít is die vernaamste plekke waarheen Danie Faasen se rugbyloopbaan hom geneem het. Die oud-leerling van Laerskool Staatspresident C.R. Swart speel deesdae vir CSM Bucuresti in Roemenië. En die 26-jarige skrumskakel is besig om sy rugby én lewe in dié Europese land te geniet.

Faasen het voor sy Boekarest-skuif vir Rugby Badia in Italië saam met ander Suid-Afrikaners soos Joe van Niekerk en Stefan Basson gespeel en vertel dat die vaardigheidsvlakke baie hoër in Roemenië is.

“Ek speel nou losskakel vir Bucuresti en hoewel Italië ’n lekkerder land is, is die rugby beter hier. Roemenië se beste klubspan (Timisoara) het byvoorbeeld meer as 60 punte teen Italië se topklub (Rovigo) opgestapel.”

Faasen is ook nie die enigste Suid-Afrikaner wat sy rugbystewels in Roemenië aantrek nie. Die oud-Puma, Savage van Heerden, het die Oos-Europese land by die 2015 Wêreldbeker in Engeland verteenwoordig.

Tog koester Faasen nie soortgelyke drome nie.

“Ek het nie meer groot rugbydoelwitte nie…ek gebruik dit nou om die wêreld te sien. Maar as ’n goeie klub my raaksien, sal dit fantasties wees en mens kan dinge vandaar verder neem. Ek is nog jonk en enige iets is moontlik.”

Hy het al ’n paar stewige vertonings vir sy nuwe klub gelewer.

Teen Bucarest Dinamo het hy 20 van die 25 punte aangeteken, terwyl hy teen die hoogsaangeskrewe Timisoara vir 11 van die span se 16 punte verantwoordelik was.

Dit was ook die eerste keer in CSM Bucuresti se geskiedenis dat hulle vir Timisoara kon klop.

“Boekarest is Roemenië se hoofstad en dit is waarskynlik die beste stad waarin ek nog in Europa gebly het. Mense het oor die algemeen ’n wanpersepsie van Roemenië, maar sover is dit cool.”

• Faasen het in Suid-Afrika vir die Blou Bulle (hy het sy hoërskoolloopbaan by Affies voltooi), die Kings en die SWD Arende uitgedraf, voor hy sy heil in Europa gaan soek het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
Back to top button