(Videos) Flopsport: Tobie van den Bergh
Saterdag was Wêreldtoiletdag. Is dit dalk die rede waarom die Bokke so swak gespeel het? (Ja, dit is nie ’n twakstorie nie, dit was regtig Wêreldtoiletdag).

•Verneem in Mhluzi noem hulle die Bokke nou die skoroskoro’s, ’n ou vrot kar wat jy nie eers aan die brand kan stoot nie.
•Sê Jake White voor die Italië wedstryd “daar is geen manier wat die Bokke teen die Italianers kan verloor nie” – hoe sê meneer nou?
•“Italia Italia Italia…!” het dit gewoonlik uit die Italiaanse buurman, Franco Mirizzi, se huis weerklink. Na Saterdag loop hy nog meer breë bors.
•Koerante het laat waai na die skoknederlaag: “Mamma bleddie mia” het een aangekondig. Wed hy wou gesê het “Mamma flippen mia”.
•Dit kon net sowel: “Bokke vrot in Florence” gewees het of “Bokke flop in Florence”.
•Dieselfde koerant gee na elke wedstryd vir die Bokke punte. Gewoonlik is drie die swakste punt. Sondagoggend toe kry die hele Bokspan ’n nulletjie – van Willie le Roux tot Beast.
•En Rudy Paige was weer Saterdag so stadig jy kan hoor grom sy spanmaats: “Mother buffer!”
•Laat weet ’n ou: “Een Bul in die Italiaanse span was genoeg om die Bokke te klop”. Italiaanse Dries van Schalkwyk.
•Die Bokke sou Skillie Skilpad laat haastig lyk, berig nog ’n koerant. (Jy bedoel nou seker darem nie die spoedvraat Willem Alberts nie).
•Don’t play with ou Toetie! En die Kaapse koerantmanne wat so oor Toetie gekoer het eis nou self sy kop.
•Ag maar moenie warrie nie, Saterdag klop hulle die Walliesers en dan is al die ou sonnes weer vergewe.
•En toe wys SuperSport hoogtepunte van die wedstryd teen Italië en dit is net stilte en krieke wat kriek.
•Skerp Dale Steyn! “Beaten with the bat, beaten with the ball, beaten in the field, mentally stronger” het Steyn laat weet na die pepperment-sage van Fav.
•Ai, word darem nou aan die bos gekap. Fanie Vermaak is die jongste. Vlieg in 1976 na Oos Londen. Wally Karbe vat my met sy bromponie Jan Smuts toe. Daar sit hulle my tas op ’n band en woerts is hy weg. Hol nog agterna, tevergeefs. Vannie platteland en het nie geweet van vliegtuie nie. Sit heeltyd en bekommer waar gaan jy weer daai tas kry. Suidoos-Transvaal speel teen Grens. By die onthaal daai aand verdwyn my kamera. Loop Oos Londen se strate deur en soek, die onthaalsaal, oral. Gefire! glo jy. Maandagoggend sê redakteur Leonard Neill gaan meld dit by die speurtak aan. In kaptein Jordaan se kantoor sit en wag toe oom Pikkie Coetzee bel, “die kamera is by my, Fanie het hom weggesteek”. En van toe af was jy op jou hoede wanneer Fanie in die omgewing was. Nag ou Grote!
•Dat daar nou in hierdie tye ’n video gesirkuleer word oor die Bokke toe hulle nog Springbokke was en nie ’n klomp brandsiek boerbokke nie, nie goed vir mense se gemoed nie.
